Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:21-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Gaan raadpleeg die Here vir my en vir die wat in Israel en in Juda oorgebly het, oor die woorde van die boek wat gevind is; want groot is die grimmigheid van die Here wat oor ons uitgestort is, omdat ons vaders die woord van die Here nie gehou het om te handel volgens alles wat in hierdie boek voorgeskrywe is nie.

22. Toe gaan Hilkía en die wat die koning gestuur het, na die profetes Hulda, die vrou van Sallum, die seun van Tokhat, die seun van Hasra, die klerebewaarder — sy het in Jerusalem in die Nuwe Stad gewoon — en hulle het so met haar gespreek.

23. Toe sê sy aan hulle: So spreek die Here, die God van Israel: Sê aan die man wat julle na my gestuur het,

24. so spreek die Here: Kyk, Ek bring ’n onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die vervloekinge wat geskrywe staan in die boek wat hulle aan die koning van Juda voorgelees het.

25. Omdat hulle My verlaat en vir ander gode offerrook laat opgaan het, om My te terg met al die werke van hulle hande, daarom sal my grimmigheid oor hierdie plek uitgestort en nie uitgeblus word nie.

26. Maar aan die koning van Juda wat julle stuur om die Here te raadpleeg, aan hom moet julle só sê: So spreek die Here, die God van Israel: Wat die woorde betref wat jy gehoor het —

27. omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van God verneder het toe jy sy woorde teen hierdie plek en teen sy inwoners hoor, en jy jou voor my aangesig verneder het en jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, spreek die Here.

28. Kyk, Ek sal jou by jou vaders versamel, en jy sal met vrede in jou graf versamel word, en jou oë sal al die onheil nie aansien wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners bring nie. En hulle het die koning antwoord gebring.

29. Toe het die koning gestuur en al die oudstes van Juda en Jerusalem byeen laat kom.

30. En die koning het opgegaan in die huis van die Here en al die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem en die priesters en die Leviete en die hele volk, groot en klein, en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die Here gevind is, voor hulle ore gelees.

31. En die koning het op sy plek gaan staan en die verbond voor die aangesig van die Here gesluit om die Here te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met sy hele hart en met sy hele siel te onderhou, om die woorde van die verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te volbring.

32. En hy het almal wat in Jerusalem en in Benjamin te vinde was, laat toetree tot die verbond; en die inwoners van Jerusalem het gehandel volgens die verbond van God, die God van hulle vaders.

33. Josía het toe al die gruwels uit al die landstreke van die kinders van Israel verwyder en almal wat in Israel te vinde was, diensbaar gemaak, om die Here hulle God te dien; al sy dae het hulle nie van die Here, die God van hulle vaders, afgewyk nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34