Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:17-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En hulle het begin om te heilig op die eerste van die eerste maand en op die agtste dag van die maand by die voorportaal van die Here gekom en die huis van die Here binne agt dae geheilig; en op die sestiende dag van die eerste maand was hulle gereed.

18. Toe kom hulle by koning Hiskía in en sê: Ons het die hele huis van die Here gereinig — die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die tafel vir die toonbrode met al sy gereedskap;

19. ook al die gereedskap wat koning Agas tydens sy regering deur sy ontrou ontheilig het, het ons weer reggesit en geheilig, en kyk, daar is dit voor die altaar van die Here.

20. Daarop maak koning Jehiskía hom vroeg klaar en laat die owerstes van die stad bymekaarkom, en hy het opgegaan na die huis van die Here.

21. En hulle het sewe bulle en sewe ramme en sewe lammers en sewe bokke as ’n sondoffer vir die koningskap en vir die heiligdom en vir Juda gebring; en hy het aan die seuns van Aäron, die priesters, gesê om dit op die altaar van die Here te offer.

22. Toe het hulle die beeste geslag, en die priesters het die bloed opgevang en dit teen die altaar uitgegooi, en die ramme geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi, en die lammers geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi.

23. Daarna het hulle die sondofferbokke nader gebring voor die koning en die vergadering, en hulle het hul hande daarop gelê.

24. En die priesters het hulle geslag en die bloed daarvan as sondoffer teen die altaar uitgegooi om versoening te doen vir die hele Israel; want die koning het die brandoffer en die sondoffer vir die hele Israel beveel.

25. En hy het die Leviete opgestel by die huis van die Here met simbale, met harpe en siters volgens die gebod van Dawid en van Gad, die siener van die koning, en van die profeet Natan; want die Here het dit so beveel deur die diens van sy profete.

26. En die Leviete het gaan staan met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.

27. En Hiskía het bevel gegee om die brandoffer op die altaar te offer; en net toe die brandoffer begin, het ook die gesang tot eer van die Here en die trompette begin, en dit onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel.

28. En die hele vergadering het hulle neergebuig, en die gesang het weerklink en die trompette geblaas — dit alles totdat die brandoffer verby was.

29. En toe hulle klaar was met offer, het die koning en almal wat by hom aanwesig was, gekniel en hulle neergebuig.

30. Daarop gee koning Jehiskía en die owerstes aan die Leviete bevel om die Here te prys met die woorde van Dawid en van Asaf, die siener; en hulle het met blydskap die lofsang aangehef en gebuig en aanbid.

31. En Jehiskía het begin sê: Nou het julle jul aan die Here gewy; kom aan en bring die slagoffers en die lofoffers na die huis van die Here. Die vergadering het toe slagoffers en lofoffers gebring, en elkeen wat gewillig van hart was, brandoffers.

32. En die getal van die brandoffers wat die vergadering gebring het, was sewentig beeste, honderd ramme, tweehonderd lammers; dit alles as ’n brandoffer aan die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29