Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:3-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En aan die einde van sewe jaar het die vrou uit die land van die Filistyne teruggekom en uitgegaan om ’n beroep te doen op die koning vanweë haar huis en haar grond.

4. Die koning was juis besig om met Gehási, die dienaar van die man van God, te spreek en te sê: Vertel my tog al die groot dinge wat Elísa gedoen het.

5. En terwyl hy die koning vertel hoe hy die dooie lewendig gemaak het, roep die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, juis die koning aan vanweë haar huis en haar grond. En Gehási sê: My heer die koning, dít is die vrou, en dít is haar seun wat Elísa lewendig gemaak het.

6. En die koning het die vrou ondervra, en sy het hom vertel. Toe gee die koning haar ’n sekere hofdienaar en sê: Laat haar alles terugkry wat aan haar behoort, en ook die hele opbrings van die grond, van die dag af dat sy die land verlaat het, tot nou toe.

7. EN Elísa het in Damaskus aangekom, terwyl Bénhadad, die koning van Aram, siek was; en aan hom is meegedeel en gesê: Die man van God het hierheen gekom.

8. Toe sê die koning vir Hásael: Neem ’n geskenk in jou hand en gaan die man van God tegemoet en raadpleeg die Here deur hom en vra: Sal ek van hierdie siekte gesond word?

9. Daarop het Hásael hom tegemoetgegaan en ’n geskenk in sy hand geneem, naamlik allerhande kosbare goed van Damaskus, ’n vrag vir veertig kamele; en hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: U seun Bénhadad, die koning van Aram, stuur my na u om te vra: Sal ek van hierdie siekte gesond word?

10. En Elísa antwoord hom: Gaan sê: Jy sal sekerlik nie gesond word nie; want die Here het my laat sien dat hy sekerlik sal sterwe.

11. En hy het sy gesig strak na hom gerig totdat hy verleë was; en die man van God het geween.

12. Toe sê Hásael: Waarom ween my heer? En hy antwoord: Omdat ek weet watter kwaad jy die kinders van Israel sal aandoen; jy sal hulle vestings aan die brand steek en hulle jongmanne met die swaard ombring en hulle jong kinders verpletter en hulle swanger vroue oopsny.

13. Maar Hásael sê: Wat is u dienaar, die hond, dat hy hierdie groot ding sou doen? En Elísa antwoord: Die Here het my jou laat sien as koning oor Aram.

14. Daarop het hy van Elísa af weggegaan, en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: Wat het Elísa vir jou gesê? En hy antwoord: Hy het vir my gesê: U sal sekerlik gesond word.

15. Maar die volgende dag het hy die bedsprei geneem en dit in die water gesteek en oor sy gesig uitgesprei, sodat hy gesterf het; en Hásael het in sy plek koning geword.

16. EN in die vyfde jaar van Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, terwyl Jósafat koning was van Juda, het Jehóram, die seun van Jósafat, die koning van Juda, koning geword.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8