Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:15-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ’n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak?

16. Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.

17. En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.

18. En toe hulle na hom afkom, het Elísa tot die Here gebid en gesê: Slaan tog hierdie mense met blindheid. En Hy het hulle op die woord van Elísa met blindheid geslaan.

19. Daarop sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg, en dit is nie die stad nie; volg my, dan sal ek julle lei na die man wat julle soek; en hy het hulle na Samaría gelei.

20. En by hulle aankoms in Samaría, sê Elísa: Here, open hulle oë, dat hulle kan sien. En die Here het hulle oë geopen, dat hulle kon sien, en daar was hulle binne-in Samaría!

21. En die koning van Israel sê vir Elísa toe hy hulle sien: Moet ek verslaan, moet ek verslaan, my vader?

22. Maar hy antwoord: U mag nie verslaan nie. Sou u dan verslaan die wat u met u swaard en u boog as gevangenes weggevoer het? Sit aan hulle brood en water voor, dat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan trek.

23. En hy het hulle ’n groot maaltyd berei; en nadat hulle geëet en gedrink het, laat hy hulle gaan; en hulle het na hul heer getrek. En die bendes van die Arameërs het verder nie meer in die land van Israel gekom nie.

24. EN daarna het Bénhadad, die koning van Aram, sy hele leër versamel en opgetrek en Samaría beleër.

25. En daar was ’n groot hongersnood in Samaría, want hulle het dit beleër totdat ’n eselskop tagtig sikkels silwer en ’n kwart-kab duiwemis vyf sikkels silwer werd was.

26. En terwyl die koning op die muur verbygaan, roep ’n vrou na hom en sê: Help, heer koning!

27. Maar hy antwoord: As die Here jou nie help nie, waarvandaan moet ek jou dan help? Van die dorsvloer of van die parskuip?

28. Verder sê die koning vir haar: Wat is dit met jou? En sy antwoord: Hierdie vrou het vir my gesê: Gee jou seun, dat ons hom vandag eet; dan kan ons môre my seun eet.

29. So het ons dan my seun gekook en hom geëet; maar toe ek die volgende dag vir haar sê: Gee jou seun, dat ons hom eet — het sy haar seun weggesteek.

30. En toe die koning die woorde van die vrou hoor, skeur hy sy klere, terwyl hy op die muur verder loop — die mense het gesien hoe daar ’n roukleed onder op sy liggaam was —

31. en hy sê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen, as die hoof van Elísa, die seun van Safat, vandag op hom sal bly staan.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6