Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:18-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Daarop sê hy: Laat hom met rus, laat niemand sy bene verroer nie. En hulle het sy bene met die bene van die profeet wat uit Samaría gekom het, met rus gelaat.

19. En ook al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaría was, wat die konings van Israel gebou het om die Here te terg, het Josía afgeskaf en daarmee gehandel ooreenkomstig alles wat hy in Bet-el gedoen het.

20. En al die priesters van die hoogtes wat daar was, het hy op die altare geslag en mensbene daarop verbrand en na Jerusalem teruggegaan.

21. Toe gee die koning die hele volk bevel en sê: Hou pasga vir die Here julle God soos geskrywe is in hierdie verbondsboek.

22. Want soos hierdie pasga is daar nie een gehou van die dae van die Rigters af wat Israel gerig het, en gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie;

23. maar in die agttiende jaar van koning Josía is hierdie pasga vir die Here in Jerusalem gehou.

24. Ook het Josía die dodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die Here gekry het.

25. En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses, en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie.

26. Nogtans het die Here Hom nie afgewend van sy groot toorngloed waarmee sy toorn teen Juda ontvlam het oor al die terginge waarmee Manasse Hom geterg het nie.

27. En die Here het gesê: Ek sal Juda ook van my aangesig verwyder soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad Jerusalem verwerp wat Ek verkies het, en die huis waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.

28. En die verdere geskiedenis van Josía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

29. In sy dae het Farao Nego, die koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier; en koning Josía het hom tegemoetgetrek, maar dié het hom gedood by Megíddo net toe hy hom sien.

30. En sy dienaars het hom dood vervoer van Megíddo af en hom in Jerusalem gebring en hom in sy graf begrawe; en die volk van die land het Jóahas, die seun van Josía, geneem en hom gesalf en hom in die plek van sy vader koning gemaak.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23