Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het die koning gestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom versamel.

2. En die koning het opgegaan in die huis van die Here en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem saam met hom, en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot; en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die Here gevind is, voor hulle ore gelees.

3. En die koning het op die verhoog gaan staan en die verbond voor die aangesig van die Here gesluit om die Here te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig. En die hele volk het toegetree tot die verbond.

4. Toe gee die koning die hoëpriester Hilkía en die priesters van die tweede rang en die drumpelwagters bevel om uit die tempel van die Here al die voorwerpe uit te bring wat gemaak is vir Baäl en Asjéra en die hele leër van die hemel; en hy het dit buitekant Jerusalem in die velde van Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-el laat dra.

5. En hy het die afgodspriesters uitgeroei wat deur die konings van Juda aangestel was om op die hoogtes in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem rook te laat opgaan, en ook die wat vir Baäl, vir die son en die maan en die sterrebeelde en die hele leër van die hemel offerrook laat opgaan het.

6. En hy het die Asjéra uit die huis van die Here buitekant Jerusalem uitgebring na die spruit Kidron en dit by die spruit Kidron verbrand en dit tot stof vermaal en sy stof gegooi op die algemene begraafplaas.

7. En hy het die huise van die skandseuns afgebreek wat in die huis van die Here was, waar die vroue tente geweef het vir Asjéra.

8. En hy het al die priesters uit die stede van Juda laat kom en die hoogtes verontreinig waar die priesters offerrook laat opgaan het, van Geba af tot by Berséba, en die hoogtes van die poorte afgebreek, die wat by die ingang van die poort van Josua, die owerste van die stad, was en die wat aan ’n mens se linkerhand in die stadspoort was.

9. Die priesters van die hoogtes mag egter nie op die altaar van die Here in Jerusalem geklim het nie, maar hulle het ongesuurde brode onder hulle broers geëet.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23