Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10:4-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Maar hulle het vreeslik bang geword en gesê: Kyk, twee konings het nie voor hom standgehou nie; hoe sou ons dan kan standhou?

5. Toe laat die owerste oor die paleis en die owerste oor die stad en die oudstes en die opvoeders aan Jehu dít weet: Ons is u dienaars, en alles wat u ons beveel, sal ons doen; ons sal niemand koning maak nie; doen wat goed is in u oë.

6. Daarop het hy vir die tweede maal ’n brief aan hulle geskrywe en gesê: As julle vir my is en my gehoorsaam wil wees, neem dan die hoofde van die manne, die seuns van julle heer, en kom môre omtrent sulke tyd na my in Jísreël; want die seuns van die koning, sewentig man, was by die grotes van die stad wat hulle grootgemaak het.

7. En toe die brief by hulle kom, het hulle die seuns van die koning geneem en hulle gedood, sewentig man, en hulle hoofde in mandjies gesit en aan hom na Jísreël gestuur.

8. En toe die boodskapper kom en hom berig bring en sê: Hulle het die hoofde van die koning se seuns gebring, sê hy: Sit hulle in twee hope neer by die ingang van die poort tot môre toe.

9. En in die môre het hy uitgegaan en gaan staan en aan die hele volk gesê: Julle is onskuldig. Kyk, ék het ’n sameswering gesmee teen my heer en hom vermoor, maar wie het al hierdie manne doodgeslaan?

10. Erken dan dat niks onvervuld bly van die woord van die Here wat die Here gespreek het teen die huis van Agab nie — die Here het gedoen wat Hy deur die diens van sy kneg Elía gespreek het.

11. Toe slaan Jehu almal dood van die huis van Agab wat in Jísreël oor was, en al sy grotes en sy vertroudes en sy priesters, totdat daar niemand van hom oor was wat vrygeraak het nie.

12. En hy het hom gereedgemaak en gegaan en na Samaría getrek. Terwyl hy op pad by Bet-Eked van die herders was

13. en Jehu die broers van Ahásia, die koning van Juda, aantref, sê hy: Wie is julle? En hulle antwoord: Ons is die broers van Ahásia, en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die gebiedster te groet.

14. En hy sê: Gryp hulle lewendig! En hulle het hul lewendig gegryp en gedood by die put van Bet-Eked, twee-en-veertig man; en hy het niemand van hulle laat oorbly nie.

15. En vandaar het hy gegaan en Jónadab, die seun van Regab, gevind wat hom tegemoetkom. En hy groet hom en sê vir hom: Is jou hart reg soos my hart met jou hart is? En Jónadab antwoord: Ja. So ja, gee jou hand, sê Jehu. Toe gee hy sy hand; en hy het hom by hom op die wa laat klim

16. en gesê: Gaan saam met my en aanskou met welgevalle my ywer vir die Here. En hulle het hom op sy wa laat ry.

17. En toe hy in Samaría aankom, het hy almal omgebring wat van Agab in Samaría oor was, totdat hy hom verdelg het volgens die woord van die Here wat Hy tot Elía gespreek het.

18. En Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: Agab het Baäl ’n bietjie gedien; Jehu sal hom baie dien.

19. Roep dan nou al die profete van Baäl, al sy dienaars en al sy priesters na my toe; niemand moet gemis word nie, want ek het ’n groot offer aan Baäl. Elkeen wat gemis word, sal nie leef nie. Maar Jehu het dit met lis gedoen om die dienaars van Baäl te kan vernietig.

20. Verder sê Jehu: Heilig ’n feestyd vir Baäl; en hulle het dit uitgeroep.

21. Jehu het ook deur die hele Israel gestuur; en al die dienaars van Baäl het gekom — sodat daar niemand oor was wat nie gekom het nie — en in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel van Baäl vol was van end tot end.

22. En hy sê aan die een wat oor die klerekamer was: Bring klere uit vir al die dienaars van Baäl. En hy het vir hulle klere uitgebring.

23. Daarop gaan Jehu saam met Jónadab, die seun van Regab, in die tempel van Baäl in en sê aan die dienaars van Baäl: Ondersoek en kyk of nie miskien van die dienaars van die Here hier by julle is nie, net die dienaars van Baäl alleen.

24. En hulle het ingegaan om slagoffers en brandoffers toe te berei; maar Jehu het vir hom buitekant tagtig man opgestel en gesê: Hy wat een van die manne wat ek in julle hande lewer, laat vryraak, sy lewe sal in die plek van dié se lewe wees.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 10