Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 1:9-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En hy het ’n owerste van vyftig met sy vyftig na hom gestuur. En toe hy na hom opklim, terwyl hy juis op die top van die berg sit, sê hy vir hom: Man van God, die koning spreek: Kom af!

10. Toe antwoord Elía en sê aan die owerste oor vyftig: As ek dan ’n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het vuur van die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.

11. En hy het weer ’n ander owerste oor vyftig met sy vyftig na hom gestuur; en die het begin spreek en vir hom gesê: Man van God, so sê die koning: Kom gou af!

12. Daarop antwoord Elía en sê vir hulle: As ek ’n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het die vuur van God uit die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.

13. En hy het weer ’n owerste van ’n derde vyftig met sy vyftig na hom gestuur. En die derde owerste oor vyftig het opgeklim en aangekom en op sy knieë voor Elía gebuig en hom gesmeek en vir hom gesê: Man van God, laat tog my lewe en die lewe van u dienaars, hierdie vyftig, kosbaar wees in u oë!

14. Kyk, vuur het van die hemel neergedaal en die eerste twee owerstes oor vyftig met hulle vyftig verteer; maar laat my lewe nou kosbaar wees in u oë!

15. Toe sê die Engel van die Here vir Elía: Gaan saam met hom af; wees nie bevrees vir hom nie. En hy het opgestaan en saam met hom na die koning afgegaan

16. en met hom gespreek: So sê die Here: Omdat jy boodskappers gestuur het om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg — is dit omdat daar glad geen God in Israel is om sy woord te raadpleeg nie? — daarom sal jy van die bed waar jy op geklim het, nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.

17. En hy het gesterwe volgens die woord van die Here wat Elía gespreek het; en Joram het in sy plek koning geword in die tweede jaar van Joram, die seun van Jósafat, die koning van Juda; want hy het geen seun gehad nie.

18. En die verdere geskiedenis van Ahásia, wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 1