Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 23:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Daarom het Saul al die manskappe vir die geveg opgeroep om af te trek na Kehíla ten einde Dawid en sy manne in te sluit.

9. Toe Dawid gewaar dat Saul onheil teen hom beraam, sê hy aan die priester Ábjatar: Bring die skouerkleed nader.

10. En Dawid sê: Here, God van Israel, u kneg het verseker gehoor dat Saul na Kehíla wil trek om die stad om my ontwil te verwoes.

11. Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer? Sal Saul afkom soos u kneg verneem het? Here, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne! Toe antwoord die Here: Hy sal afkom.

12. Daarop sê Dawid: Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer? En die Here antwoord: Hulle sal uitlewer.

13. En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent seshonderd man — hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon. Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek.

14. En Dawid het gebly in die woestyn, in die bergvestings, ook op die gebergte in die woestyn Sif; en Saul het hom aldae gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.

15. Maar Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek. Dawid was naamlik in die woestyn Sif, in Hores.

16. Daarop het Jónatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God

17. en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed.

18. Toe sluit hulle twee ’n verbond voor die aangesig van die Here; en Dawid het in Hores gebly, maar Jónatan het na sy huis gegaan.

19. Daarna het daar Sifiete opgegaan na Saul, na Gíbea, en gesê: Steek Dawid hom nie weg by ons in die bergvestings, in Hores, op die heuwel Hagíla wat suid van die wildernis lê nie?

20. En is dit nou na u hartelus om af te kom, o koning, kom dan af, en ons sal sorg om hom in die hand van die koning uit te lewer.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 23