Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 23:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. INTUSSEN is aan Dawid meegedeel en gesê: Kyk, die Filistyne veg teen Kehíla, en hulle plunder die dorsvloere.

2. Toe raadpleeg Dawid die Here en vra: Sal ek gaan en daardie Filistyne verslaan? En die Here sê vir Dawid: Gaan en verslaan die Filistyne en verlos Kehíla.

3. Maar die manne van Dawid sê vir hom: Kyk, hier in Juda is ons al bevrees, hoeveel te meer dan as ons na Kehíla trek teen die slagordes van die Filistyne?

4. Toe raadpleeg Dawid die Here nog weer, en die Here het hom geantwoord en gesê: Maak klaar, trek af na Kehíla, want Ek gee die Filistyne in jou hand.

5. Daarom het Dawid met sy manne na Kehíla getrek en teen die Filistyne geveg en hulle vee weggedrywe en ’n groot slag onder hulle geslaan. So het Dawid dan die inwoners van Kehíla verlos.

6. (By die vlug van Ábjatar, die seun van Ahiméleg, na Dawid, het hy na Kehíla afgekom met die skouerkleed by hom.)

7. Daarop kry Saul berig dat Dawid in Kehíla gekom het, en Saul sê: God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself opgesluit deurdat hy in ’n stad met poorte en grendels ingegaan het.

8. Daarom het Saul al die manskappe vir die geveg opgeroep om af te trek na Kehíla ten einde Dawid en sy manne in te sluit.

9. Toe Dawid gewaar dat Saul onheil teen hom beraam, sê hy aan die priester Ábjatar: Bring die skouerkleed nader.

10. En Dawid sê: Here, God van Israel, u kneg het verseker gehoor dat Saul na Kehíla wil trek om die stad om my ontwil te verwoes.

11. Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer? Sal Saul afkom soos u kneg verneem het? Here, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne! Toe antwoord die Here: Hy sal afkom.

12. Daarop sê Dawid: Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer? En die Here antwoord: Hulle sal uitlewer.

13. En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent seshonderd man — hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon. Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek.

14. En Dawid het gebly in die woestyn, in die bergvestings, ook op die gebergte in die woestyn Sif; en Saul het hom aldae gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.

15. Maar Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek. Dawid was naamlik in die woestyn Sif, in Hores.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 23