Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het Dawid gevlug uit Najot by Rama, en hy het by Jónatan gekom en gevra: Wat het ek gedoen? Wat is my misdaad, en wat is my sonde voor jou vader, dat hy my lewe soek?

2. Maar hy sê vir hom: Volstrek nie! Jy sal nie sterwe nie. Kyk, my vader doen geen ding, klein of groot, sonder om dit aan my te openbaar nie; waarom sou my vader dan hierdie saak vir my wegsteek? Dit is nie so nie.

3. Toe sweer Dawid verder en sê: Jou vader weet baie goed dat ek guns in jou oë gevind het; daarom het hy gedink: Laat Jónatan dit nie weet nie, anders word hy bedroef. Maar so waar as die Here leef en jou siel leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood!

4. En Jónatan het Dawid geantwoord: Wat jy begeer, sal ek vir jou doen.

5. Toe sê Dawid vir Jónatan: Kyk, môre is dit nuwemaan, en ek moet sekerlik met die koning saam aansit om te eet; maar laat my gaan, dat ek my wegsteek in die veld tot oormôre-aand.

6. As jou vader my inderdaad mis, moet jy sê: Dawid het my dringend verlof gevra om gou na sy stad Betlehem te loop, want daar is die jaarlikse offer vir die hele geslag.

7. As hy so sê: Goed! dan is jou dienaar veilig; maar as hy baie kwaad word, weet dan dat die onheil van sy kant vas besluit is.

8. Bewys dan guns aan jou dienaar, want jy het jou dienaar met jou saam in ’n verbond van die Here gebring. Maar as daar by my ’n misdaad is, maak jy my dan self dood — waarom tog sou jy my na jou vader bring?

9. Toe sê Jónatan: Moenie so dink nie! Want as ek sekerlik bemerk dat die onheil van my vader se kant vas besluit is om oor jou te kom, sou ek jou dit dan nie te kenne gee nie?

10. En Dawid het Jónatan gevra: Wie sal my dit te kenne gee of jou vader jou miskien ’n harde antwoord gee?

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20