Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:45-58 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

45. Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.

46. Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het.

47. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die Here nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee.

48. Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet;

49. en Dawid steek sy hand in die tas en neem ’n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val.

50. So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met ’n slinger en ’n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie.

51. Daarop het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem, dit uit sy skede getrek en hom van kant gemaak, en hy het daarmee sy hoof afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug.

52. Toe het die manne van Israel en van Juda hulle klaargemaak en gejuig en die Filistyne agtervolg tot by die ingang na Gat en tot by die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne gelê het op die pad van Saäráim en tot by Gat en tot by Ekron.

53. Daarna het die kinders van Israel teruggekeer van die hewige agtervolging van die Filistyne en hulle laer geplunder.

54. En Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, maar sy wapens in sy tent neergesit.

55. Net toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn te ontmoet, sê hy vir Abner, die leërowerste: Wie se seun is die jongman tog, Abner? En Abner antwoord: So waar as u siel leef, koning, ek weet dit nie!

56. En die koning sê: Vra jy wie se seun die jongman tog is.

57. En toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring, met die hoof van die Filistyn in sy hand.

58. En Saul vra hom: Wie se seun is jy, jongman? En Dawid sê: Die seun van u dienaar Ísai, die Betlehemiet.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17