Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:28-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. Toe sy oudste broer Elíab hom met die manne hoor spreek, het Elíab baie kwaad geword vir Dawid en gesê: Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.

29. En Dawid sê: Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net.

30. En hy het by hom weggedraai na iemand anders en dieselfde woorde gespreek, en die manskappe het hom geantwoord volgens die eerste woorde.

31. Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal.

32. En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.

33. Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is ’n seun, en hy is ’n krygsman van sy jeug af.

34. Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ’n leeu of ’n beer kom en ’n stuk kleinvee uit die trop wegdra,

35. dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.

36. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het.

37. Verder sê Dawid: Die Here wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die Here met jou wees!

38. En Saul het Dawid sy klere laat aantrek en ’n koperhelm op sy hoof gesit en hom ’n pantser laat aantrek.

39. En Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord, en toe hy moeite doen om te loop, omdat hy dit nooit probeer het nie, sê Dawid vir Saul: Ek kan nie hierin loop nie, want ek het dit nooit probeer nie. En Dawid het dit uitgetrek.

40. Daarop neem hy sy staf in sy hand en soek vir hom uit die spruit vyf gladde klippe uit en steek dit in sy herderstas wat hy gehad het, naamlik in die slingersak; en met sy slinger in sy hand het hy nader gekom na die Filistyn.

41. Ook die Filistyn het al nader en nader gekom na Dawid, en die skilddraer voor hom uit.

42. Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy ’n seun was — rooierig, met ’n mooi voorkoms.

43. En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek ’n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode.

44. Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee.

45. Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.

46. Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17