Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:22-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan, teenoor die hele vergadering van Israel, en sy hande uitgebrei na die hemel

23. en gesê: Here, God van Israel, daar is bo in die hemel of onder op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart,

24. wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is.

25. Hou nou ook, Here, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit ’n man voor my aangesig ontbreek wat op die troon van Israel sal sit nie as jou seuns net hulle weg in ag neem deur te wandel voor my aangesig soos jy voor my aangesig gewandel het.

26. Laat dan nou, o God van Israel, u woord tog waargemaak word wat U gespreek het tot u kneg, my vader Dawid.

27. Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.

28. Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, Here my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg vandag voor u aangesig bid;

29. sodat u oë oop mag wees nag en dag oor hierdie huis, oor die plek waarvan U gesê het: My Naam sal daar wees! sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid.

30. Luister dan na die smeking van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor elke gebed na u woonplek, na die hemel toe, en as U dit hoor, vergewe dan.

31. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom ’n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,

32. wil U dan hoor in die hemel en handel en u knegte reg verskaf deur die skuldige skuldig te verklaar en sy wandel op sy hoof te lê en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.

33. As u volk Israel verslaan word voor ’n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis,

34. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle vaders gegee het.

35. As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,

36. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het.

37. As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring, heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al,

38. enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei —

39. wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders —

40. sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8