Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:13-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.

14. En as jy in my weë wandel, deur my insettinge en my gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng.

15. Toe word Salomo wakker, en — dit was ’n droom! Daarop het hy in Jerusalem gekom en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers gebring en dankoffers berei en ’n maaltyd vir al sy dienaars aangerig.

16. In dié tyd kom daar twee vroue wat hoere was, na die koning, en hulle gaan voor hom staan.

17. En die een vrou sê: Ag, my heer, ek en hierdie vrou woon in een huis, en ek het by haar in die huis gebaar.

18. En op die derde dag ná my bevalling het hierdie vrou ook gebaar terwyl ons saam was; niemand anders was by ons in die huis nie, maar net ons twee in die huis.

19. En die seun van hierdie vrou het in die nag gesterwe, omdat sy op hom gelê het.

20. Toe staan sy in die middel van die nag op en neem my seun langs my weg terwyl u dienares slaap; en sy het hom in haar skoot neergelê, maar haar dooie seun in my skoot neergelê.

21. Toe ek die môre opstaan om my seun te soog, was hy dood; maar in die môre het ek hom goed bekyk, en dit was nie my seun wat ek gebaar het nie!

22. Maar die ander vrou sê: Nee, maar die lewendige is my seun, en die dooie is jou seun. Maar die eerste sê: Nee, maar die dooie is jou seun, en die lewendige is my seun. So het hulle dan voor die koning gestry.

23. Toe dink die koning: Die een sê: Dit is my seun, die lewendige, en jou seun, die dooie. En die ander sê: Nee, maar die dooie is jou seun, en die lewendige my seun.

24. Daarop gee die koning bevel: Bring vir my ’n swaard! En hulle het die swaard voor die koning gebring.

25. En die koning sê: Sny die lewendige kind in twee stukke, en gee die helfte aan die een en die helfte aan die ander.

26. Maar die vrou wie se kind die lewendige was, het met die koning gespreek, want haar binneste was ontroerd oor haar seun — sy het gesê: Ag, my heer, gee haar die lewendige kind en maak hom tog nie dood nie! — terwyl die ander een sê: Hy sal nie myne en ook nie joue wees nie; sny deur!

27. Toe antwoord die koning en sê: Gee haar die lewendige kind en maak hom in geen geval dood nie: sy is die moeder.

28. En die hele Israel het gehoor van die vonnis wat die koning uitgespreek het, en was bevrees vir die koning; want hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3