Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:23-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. En die res van die verdere geskiedenis van Asa en al sy magtige dade en alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Maar in die tyd van sy ouderdom het hy aan sy voete gely.

24. En Asa het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Jósafat het in sy plek koning geword.

25. EN Nadab, die seun van Jeróbeam, het koning geword oor Israel in die tweede jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het twee jaar oor Israel geregeer.

26. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en gewandel in die weg van sy vader en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.

27. Maar Baésa, die seun van Ahía, van die huis van Íssaskar, het ’n sameswering teen hom gesmee, en Baésa het hom verslaan by Gíbbeton wat aan die Filistyne behoort, terwyl Nadab en die hele Israel besig was om Gíbbeton te beleër.

28. So het Baésa hom dan gedood in die derde jaar van Asa, die koning van Juda, en koning geword in sy plek.

29. En sodra hy koning was, het hy die hele huis van Jeróbeam omgebring; hy het van Jeróbeam niks laat oorbly wat asemhaal nie, totdat hy hom verdelg het, volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg Ahía, die Siloniet —

30. vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen en waarmee hy Israel laat sondig het, deur sy geterg waarmee hy die Here, die God van Israel, geterg het.

31. En die verdere geskiedenis van Nadab en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

32. En daar was oorlog tussen Asa en Baésa, die koning van Israel, al hulle dae.

33. In die derde jaar van Asa, die koning van Juda, het Baésa, die seun van Ahía, oor die hele Israel koning geword in Tirsa, vier-en-twintig jaar lank.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15