Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:31-49 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

31. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.

32. En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.

33. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.

34. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.

35. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.

36. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.

37. En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

38. Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

39. En Hy het vir hulle ’n gelykenis uitgespreek: ’n Blinde kan tog nie ’n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?

40. ’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees.

41. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie?

42. Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.

43. Want dit is nie ’n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie ’n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.

44. Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk ’n mens tog nie vye nie, en ’n mens sny ook nie druiwe van ’n doringbos nie.

45. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.

46. En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

47. Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen — Ek sal julle wys soos wie hy is.

48. Hy is soos ’n man wat ’n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.

49. Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6