Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 9:8-15 Bybel vir Almal (ABA)

8. En toe was ons God die Here ’n kort tydjie jammer vir ons. Hy het party van ons vry laat wegkom en Hy het vir ons ’n vaste woonplek gegee in sy gewyde plek. Ons God het ons oë weer laat blink, want ons was bly. Ons was slawe, maar U het ons weer laat hoop.

9. Ja, ons is slawe, maar ons God het ons nie gelos nie. Hy het die konings van Persië laat doen wat hulle belowe het. Ons het weer sterk gevoel om die tempel van ons God te bou, om weer mure te maak van sy hope klippe. Ons kan veilig woon in Juda en Jerusalem.

10. Maar, ons God, wat moet ons nou doen? Wat moet ons vir U sê? Ons het nie gedoen wat U gesê het nie.

11. U het die profete gestuur om vir ons te sê: ‘Julle sal kom in ’n land wat julle vir julleself sal neem, maar dit is ’n onrein land. Die mense in die land het dit onrein gemaak. Hulle het op elke plek in die land dinge gedoen wat Ek haat, hulle het die land onrein laat word.

12. Daarom mag julle nie julle dogters laat trou met hulle seuns nie, en julle seuns mag nie trou met hulle dogters nie. Julle moet die mense van die land nooit help dat hulle vrede kan hê en dat dit goed kan gaan met hulle nie. As julle doen wat Ek sê, dan sal julle sterk wees en julle sal al die goeie dinge van die land kan geniet. Julle sal die land vir julle kinders kan gee sodat dit hulle land sal wees.’

13. “Baie dinge het met ons gebeur omdat ons verkeerd gedoen het en omdat ons so baie sonde gedoen het. Ja, ons sondes was baie, maar U het ons nie so baie gestraf nie. U het party van ons laat aanhou lewe.

14. Maar ons het wéér nie gedoen wat U gesê het nie, ons het getrou met mense wat dinge doen wat U haat. U is nou baie kwaad vir ons, en U moes ons almal doodgemaak het, niemand moes aangehou lewe het en vry weggekom het nie.

15. Maar, Here, God van Israel, U is die God wat reg doen. Ons het aangehou lewe, ons het vry weggekom. Hier is ons nou voor U, ons het sonde gedoen. En omdat ons sonde gedoen het, kan niemand voor U bly staan nie.”

Lees volledige hoofstuk Esra 9