Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 5:13-20 Bybel vir Almal (ABA)

13. Wanneer daar iemand by julle is wat swaarkry, dan moet hy bid. Wanneer daar iemand is wat bly is, dan moet hy vir die Here sing.

14. Wanneer daar iemand by julle is wat siek is, dan moet hy die ouderlinge van die gemeente roep om na hom toe te kom. Die ouderlinge moet die Naam van die Here sê en hulle moet olyf-olie op die persoon gooi en vir hom bid.

15. As die ouderlinge bid en glo dat die Here die siek persoon gesond sal maak, dan sal hy gesond word. Die Here sal hom laat opstaan van sy bed, en as hy sonde gedoen het, dan sal die Here sy sonde vergewe.

16. Daarom moet julle vir mekaar sê dat julle jammer is oor julle sondes. Julle moet ook vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Wanneer iemand doen wat die Here wil hê en hy bid, dan sal sy gebed help dat groot dinge gebeur.

17. Elia was ’n mens soos ons. Hy het baie ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie gereën op die aarde nie.

18. Toe het Elia weer gebid, en die reën het uit die lug gekom, en die aarde het sy plante laat groei.

19. My vriende, as daar iemand by julle is wat nie meer na die waarheid van die goeie boodskap wil luister nie, dan kan een van julle hom miskien help om weer na die Here te luister.

20. Julle moet dan onthou: As so iemand ’n ander gelowige help om nie weer verkeerd te doen nie, dan red hy hom van die dood. Dan sal die Here baie sondes vergewe.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 5