Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 21:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Hulle het die volgende môre vroeg opgestaan en daar ’n altaar gebou waarop hulle brandoffers en maaltydoffers gebring het.

5. Die Israeliete vra toe vir mekaar: “Watter een van die stamme was nie daar toe ons in Mispa by die Here bymekaargekom het nie?” Hulle het destyds ’n plegtige eed afgelê dat die stam wat nie na die Here in Mispa kom nie, uitgeroei sal word.

6. Die Israeliete was baie jammer vir hulle volksgenote uit Benjamin. Hulle het gesê: “Een van die stamme van Israel is vandag afgesny.

7. Wat kan ons doen dat hulle wat van Benjamin oorgebly het, weer vroue kan kry? Ons het ’n eed voor die Here afgelê dat ons nooit ons dogters met een van hulle sal laat trou nie.”

8. Hulle vra toe weer: “Is daar enige van die stamme van Israel wat nie opgedaag het by die byeenkoms vir die Here in Mispa nie?” Hulle vind toe uit dat daar niemand uit Jabes-Gilead na die byeenkoms toe gekom het nie.

9. Hulle het weer almal getel wat daar was en daar was werklik niemand uit Jabes-Gilead nie.

10. Die vergadering het toe van daar af 12 000 soldate gestuur met die bevel: “Gaan daarnatoe en gaan maak almal dood wat in Jabes-Gilead bly, ook die vroue en die kinders.

11. Wis elke man en elke vrou, wat al by ’n man geslaap het, heeltemal uit.”

12. Hulle het tussen die inwoners van Jabes-Gilead 400 meisies gekry wat nog nooit met ’n man geslagsgemeenskap gehad het nie. Die soldate het hulle saamgebring na die kamp by Silo in Kanaän.

13. Die vergadering stuur toe ’n vredesending na die Benjaminiete wat by die Rimmonrots weggekruip het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 21