Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Toe die man en sy byvrou en sy helper daardie middag gereed was om te vertrek, het die meisie se pa vir hom gesê: “Die skaduwees het al lank geword. Slaap eers vannag hier en dan kan jy môre vroeg opstaan vir die reis huis toe.”

10. Die man was nie bereid om nog ’n nag daar te bly nie. Hy het reggemaak en vertrek. Met sy opgesaalde donkies en sy byvrou het hy vertrek in die rigting van Jebus, dit is Jerusalem.

11. Dit was al laat toe hulle teenoor Jebus kom. Sy helper sê toe vir hom: “Kom ons draai af na die stad toe en gaan slaap daar.”

12. “Nee,” sê hy vir hom. “Ons kan nie afdraai na ’n vreemde stad waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan aan tot by Gibea.

13. Ons stoot aan om in Gibea of in Rama te gaan slaap.”

14. Hulle het deurgedruk. Die son was besig om onder te gaan toe hulle by Gibea in Benjamin aankom.

15. Hulle het afgedraai om in Gibea te gaan slaap. Hulle het op die stadsplein gaan afpak omdat niemand hulle genooi het om in sy huis te oornag nie.

16. ’n Ou man het daardie aand van sy werk in die veld af teruggekom. Hy was oorspronklik van die heuwelgebied van Efraim, maar het vir ’n tyd lank in Gibea, in die gebied van Benjamin, gebly.

17. Toe die ou man die reisigers op die stadsplein sien sit, vra hy hulle: “Van waar af kom julle en waarheen is julle op pad?”

18. Die Leviet antwoord die ou man: “Ons is op pad van Betlehem in Juda na ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim. Ek kom van daar af, maar ek het na die huis van die Here in Betlehem in Juda gegaan. Maar hier is niemand wat ons na hulle huis genooi het nie.

19. Ons het alles wat ons nodig het. Hier is voer vir die donkies, en genoeg kos en wyn vir ons almal.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 19