Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:11-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Dit was al laat toe hulle teenoor Jebus kom. Sy helper sê toe vir hom: “Kom ons draai af na die stad toe en gaan slaap daar.”

12. “Nee,” sê hy vir hom. “Ons kan nie afdraai na ’n vreemde stad waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan aan tot by Gibea.

13. Ons stoot aan om in Gibea of in Rama te gaan slaap.”

14. Hulle het deurgedruk. Die son was besig om onder te gaan toe hulle by Gibea in Benjamin aankom.

15. Hulle het afgedraai om in Gibea te gaan slaap. Hulle het op die stadsplein gaan afpak omdat niemand hulle genooi het om in sy huis te oornag nie.

16. ’n Ou man het daardie aand van sy werk in die veld af teruggekom. Hy was oorspronklik van die heuwelgebied van Efraim, maar het vir ’n tyd lank in Gibea, in die gebied van Benjamin, gebly.

17. Toe die ou man die reisigers op die stadsplein sien sit, vra hy hulle: “Van waar af kom julle en waarheen is julle op pad?”

18. Die Leviet antwoord die ou man: “Ons is op pad van Betlehem in Juda na ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim. Ek kom van daar af, maar ek het na die huis van die Here in Betlehem in Juda gegaan. Maar hier is niemand wat ons na hulle huis genooi het nie.

19. Ons het alles wat ons nodig het. Hier is voer vir die donkies, en genoeg kos en wyn vir ons almal.”

20. “Dis goed so,” sê die ou man vir hulle. “Sê maar as jy iets nodig het. Moet tog net nie vannag hier op die plein slaap nie.”

21. Die ou man het hulle saamgeneem na sy huis toe. Hulle het vir die donkies voer gegee. Hulle het ook eers hulle voete gewas, en toe saam geëet en gedrink.

22. Toe dit al gesellig begin gaan het, het ’n klomp skurke van die stad die huis omsingel. Hulle het teen die deur gehamer en vir die ou man aan wie die huis behoort het, geskreeu: “Bring uit daardie man wat in jou huis ingekom het. Ons wil seks met hom hê.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 19