Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Die vyf mans wat Lajis gaan verken het, het vir hulle makkers gesê: “Weet julle dat hier ’n huistempel is met ’n skouerkleed, afgodsbeeldjies en ’n godsbeeld? Julle weet wat om te doen.”

15. Hulle het daar afgedraai na Miga se huis toe waar die Leviet gebly het. Hulle het hom vriendelik gegroet.

16. Die 600 gewapende soldate het buite by die deur gaan staan.

17. Die vyf mans wat die land gaan verken het, het in die huis ingegaan en die godsbeeld en die afgodsbeeldjies en die skouerkleed gevat. Die priester het by die deur gestaan.

18. Toe hy sien wat die vyf mans doen, het die priester vir hulle gevra: “Wat maak julle?”

19. “Bly stil,” het hulle vir hom gesê. “Hou jou mond! Kom saam met ons dat jy ons raadgewer en priester kan wees. Wat is vir jou beter: om een man se priester te wees of om ’n priester te wees vir al die mense van ’n stam in Israel?”

20. Die priester was heeltemal inskiklik om saam met hulle te gaan. Hy het die skouerkleed, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld saamgevat.

21. Hulle het toe weer ingedraai in die pad en verder gereis. Hulle het hulle kinders en hulle vee en besittings op die voorpunt gesit.

22. Toe hulle al ’n ent weg is van Miga se huis af, het Miga sy bure bymekaargemaak en die Daniete agternagesit.

23. Toe hulle naby kom, het hulle na die Daniete geroep. Die mense van Dan het omgedraai en vir Miga gevra: “Wat is dit nou met jou dat jy mense teen ons bymekaargemaak het?”

24. Miga sê toe vir hulle: “Hoe kan julle nog vra wat is dit met my? Julle het my afgode wat ek vir my gemaak het en my priester saam met julle gevat. Ek het niks oor nie.”

25. Die mense van Dan het hom geantwoord: “Moenie hier op ons kom staan en skreeu nie! Hier is mans met kort humeure. Netnou val hulle jou en jou mense aan en maak julle dood.”

26. Die mense van Dan het toe verder getrek. Miga het gesien dat hulle vir hom te veel is om aan te val. Hy het toe maar omgedraai huis toe.

27. So het die mense van Dan die beelde gevat wat Miga gemaak het, en ook sy priester. Hulle het by Lajis uitgekom, by mense wat rustig en houtgerus daar woon. Die Daniete het hulle egter almal doodgemaak en die stad met vuur afgebrand.

28. Daar was niemand om hulle te red nie. Hulle was ver van Sidon af. Niemand het met hulle ’n aanvalsverdrag gehad om hulle te kom help nie. Dit was op die vlakte by Bet-Regob. Die mense van Dan het die stad weer herbou en daarin gaan woon.

29. Hulle het die stad herdoop na Dan, hulle stamvader, een van die seuns van Israel. Die plek se naam was egter vroeër Lajis.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18