Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Hy het vir haar gesê: “Ek sal so swak soos enige ander mens wees as ek stewig vasgebind word met nuwe toue wat nog vir niks anders gebruik is nie.”

12. Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind. Sy sê toe vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Daar het weer mans in een van haar kamers weggekruip. Simson het die toue wat om sy arms was, gebreek asof dit garingdrade was.

13. Delila het vir Simson gevra: “Wanneer gaan jy ophou om met my te mors? Jy lieg nog al die tyd vir my. Sê nou regtig vir my waarmee kan jy bedwing word.”Hy sê toe vir haar: “As jy sewe van my haarlokke in die materiaal op jou weefstoel inweef en met die dwarspen vassteek, sal ek so swak wees soos enige ander mens.”

14. Terwyl hy slaap, het sy so gemaak. Sy roep toe na hom en sê vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het wakker geskrik en die materiaal met dwarspen en al uit die weefstoel geruk.

15. Sy kerm toe by hom: “Hoe kan jy sê jy is lief vir my, maar jy vertrou my glad nie? Drie keer het jy my al vir die gek gehou. Jy wil nog steeds nie vir my sê waarin jou krag lê nie.”

16. So het sy dagin en daguit by hom bly neul totdat hy gevoel het hy word gek daarvan.

17. Toe het hy sy hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “My hare is nog nooit geskeer nie. Ek is van my geboorte af as nasireër aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn. Ek sal dan magteloos wees en soos enige ander mens.”

18. Delila het gesien dat hy hierdie keer vir haar sy geheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat kom en vir hulle gesê: “Hierdie keer moet julle kom! Hy het my nou sy geheim vertel.” Die leiers het gekom en die geld vir die betaling saamgebring.

Lees volledige hoofstuk Rigters 16