Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:8-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “Ons het jou nodig,” het die leiers van Gilead vir Jefta gesê. “Kom voer ons aan teen die Ammoniete! Ons sal jou die hoof maak van almal wat in Gilead woon.”

9. Toe vra Jefta vir die leiers van Gilead: “As julle my volg in die geveg teen die Ammoniete en die Here gee vir julle die oorwinning, sal julle my regtig as julle leier aanvaar?”

10. “Die Here sal teen ons getuig,” sê die leiers van Gilead, “as ons nie doen wat jy sê nie.”

11. Jefta is toe saam met die leiers van Gilead. Die volk het hom as hulle hoof en as aanvoerder van die leër aanvaar. Hy het in Mispa alles wat hy vir die leiers van Gilead gesê het, voor die Here gaan herhaal.

12. Jefta het boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur om by hom te hoor: “Wat is daar tussen ons en jou dat jy hier na ons land kom om teen ons oorlog te maak?”

13. Die Ammonitiese koning se antwoord vir Jefta se boodskappers was: “Israel het my land van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan gesteel toe hulle uit Egipte opgetrek het. Gee dit nou vreedsaam terug.”

14. Jefta het sy boodskappers weer na die Ammonitiese koning toe gestuur.

15. Hulle het vir hom gaan sê: “Jefta sê: Israel het nie die grond van die Moabiete of die Ammoniete gesteel nie.

16. Israel het uit Egipte deur die woestyn getrek tot by die Rietsee en by Kades aangekom.

17. “Van daar af het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en hom versoek: Laat my asseblief deur jou land trek. Hy het geweier. Israel het ook vir die koning van Moab gevra. Hy wou ook nie. Israel het toe net daar in Kades gebly.

18. “Hy het toe rondom die gebied van Edom en dié van Moab deur die woestyn getrek. Hy het oos van Moab se gebied verbygesteek en kamp gaan opslaan aan die ander kant van die Arnonrivier. Hy het nêrens in Moab se gebied gekom nie. Die Arnon is tog Moab se grens.

19. “Israel het toe ook na koning Sihon van die Amoriete in Gesbon boodskappers gestuur met die versoek: Laat my asseblief deur jou land trek na my plek toe.

20. Sihon het Israel nie vertrou om hom deur sy gebied te laat trek nie. Sihon het sy hele leër gemobiliseer en by Jahas kamp opgeslaan om teen Israel te veg.

21. Die Here, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die mag van Israel oorgegee. Israel het hulle verslaan en beheer oorgeneem oor die hele gebied waar die Amoriete toe gewoon het.

22. “Israel het in besit gekom van die hele gebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier.

23. “Die Here, die God van Israel, het dus die Amoriete voor sy volk Israel verdryf. Wil jy Hom nou verdryf?

24. Jy bly waar jou god Kemos vir jou grond gegee het. Ons bly waar die Here ons God vir ons grond gegee het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11