Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:4-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. In hierdie tyd het die Ammoniete teen die Israeliete kom oorlog maak.

5. Toe die Ammoniete teen hulle begin veg, het die leiers van Gilead vir Jefta uit Tob laat kom.

6. Hulle het vir hom gevra: “Kom voer ons aan teen die Ammoniete.”

7. Jefta antwoord die leiers: “Julle het my dan so gehaat dat julle my uit my pa se huis weggejaag het. Vir wat kom julle nou na my toe wanneer julle in die moeilikheid is?”

8. “Ons het jou nodig,” het die leiers van Gilead vir Jefta gesê. “Kom voer ons aan teen die Ammoniete! Ons sal jou die hoof maak van almal wat in Gilead woon.”

9. Toe vra Jefta vir die leiers van Gilead: “As julle my volg in die geveg teen die Ammoniete en die Here gee vir julle die oorwinning, sal julle my regtig as julle leier aanvaar?”

10. “Die Here sal teen ons getuig,” sê die leiers van Gilead, “as ons nie doen wat jy sê nie.”

11. Jefta is toe saam met die leiers van Gilead. Die volk het hom as hulle hoof en as aanvoerder van die leër aanvaar. Hy het in Mispa alles wat hy vir die leiers van Gilead gesê het, voor die Here gaan herhaal.

12. Jefta het boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur om by hom te hoor: “Wat is daar tussen ons en jou dat jy hier na ons land kom om teen ons oorlog te maak?”

13. Die Ammonitiese koning se antwoord vir Jefta se boodskappers was: “Israel het my land van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan gesteel toe hulle uit Egipte opgetrek het. Gee dit nou vreedsaam terug.”

14. Jefta het sy boodskappers weer na die Ammonitiese koning toe gestuur.

15. Hulle het vir hom gaan sê: “Jefta sê: Israel het nie die grond van die Moabiete of die Ammoniete gesteel nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11