Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:21-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Die Here, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die mag van Israel oorgegee. Israel het hulle verslaan en beheer oorgeneem oor die hele gebied waar die Amoriete toe gewoon het.

22. “Israel het in besit gekom van die hele gebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier.

23. “Die Here, die God van Israel, het dus die Amoriete voor sy volk Israel verdryf. Wil jy Hom nou verdryf?

24. Jy bly waar jou god Kemos vir jou grond gegee het. Ons bly waar die Here ons God vir ons grond gegee het.

25. Is jy dan beter as koning Balak van Moab, die seun van Sippor? Het hy dalk oor die grond ’n saak probeer maak teen Israel? Of het hy daaroor oorlog gemaak? Natuurlik nie!

26. “Israel bly nou al 300 jaar in Gesbon en sy omgewing, Aroër en sy distrik en in al die stede langs die Arnon. Hoekom het jy hulle nie destyds al probeer terugkry nie?

27. “Ek het nie verkeerd met jou gemaak nie. Jy is die een wat verkeerd met my maak. Laat die Here, wat die regter is, vandag sy beslissing gee in die saak tussen die Israeliete en die Ammoniete.”

28. Die koning van die Ammoniete wou egter nie luister na die boodskap wat Jefta vir hom gestuur het nie.

29. Die Gees van die Here het op Jefta gekom. Hy het deur Gilead en Manasse getrek tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy teen die Ammoniete gaan veg.

30. Jefta het ’n gelofte aan die Here gemaak. Hy het beloof: “As U my vandag die oorwinning oor die Ammoniete gee,

31. en as ek behoue van die Ammoniete af terugkom, sal ek die persoon wat van my huis af kom om my te groet, aan die Here afstaan. Ek sal hom as brandoffer offer.”

32. Jefta het teen die Ammoniete gaan veg. Die Here het vir hom die oorwinning gegee.

33. Jefta het die Ammoniete verpletterend verslaan van Aroër af tot waar ’n mens by Minnit kom, altesaam twintig stede. By Abel-Keramim was daar ’n groot slagting. Die Ammoniete is aan die Israeliete onderwerp.

34. Jefta is terug na sy huis in Mispa. Sy enigste dogter het hom met tamboeryne en koordanse kom ontmoet. Hy het nie nog ander kinders gehad nie.

35. Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur. Hy het uitgeroep: “Ag tog, my dogter, my hart is stukkend. Jy het my in die ellende gedompel. Ek het aan die Here ’n gelofte gemaak en ek kan dit nie terugtrek nie.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 11