Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:4-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Juda het toe gaan veg. Die Here het gesorg dat Juda die oorwinning oor die Kanaäniete en die Feresiete behaal. Hulle het in Besek 10 000 man doodgemaak.

5. Hulle het daar op koning Adoni-Besek afgekom en ’n geveg met hom aangeknoop. Hulle het die Kanaäniete en die Feresiete verpletter.

6. Adoni-Besek het op die vlug geslaan. Hulle het hom egter agternagesit, hom gevang en sy duime en sy groottone afgesny.

7. Toe sê Adoni-Besek: “Ek het al 70 konings se duime en groottone afgesny en hulle aan my onderwerp.God het my nou terugbetaal vir wat ek gedoen het.” Hulle het Adoni-Besek na Jerusalem toe laat gaan. Daar het hy gesterf.

8. Juda het teen Jerusalem gaan veg en die stad ingeneem. Hulle het die inwoners doodgemaak en toe die stad aan die brand gesteek.

9. Daarna het hulle gaan oorlog maak teen die Kanaäniete wat in die heuwels, in die Negevwoestyn en op die kusvlakte gewoon het.

10. Juda het opgeruk teen die Kanaäniete wat in Hebron bly. Hebron se naam was vroeër Kirjat-Arba. Daar het hulle die oorhand gekry oor Sesai, Agiman en Talmai.

11. Van hier af het Juda met die mense wat in Debir woon, gaan veg. Debir se naam was vroeër Kirjat-Sefer.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1