Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 8:3-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Aäron het toe so gemaak. Hy het die lampies aan die voorkant vasgesit, soos die Here vir Moses gesê het.

4. Die hele kandelaar was van sy voetstuk af tot bo by die amandelblommetjies van uitgeslaande goud gemaak. Dit was presies volgens die plan gemaak wat die Here vir Moses voorgehou het.

5. Die Here het vir Moses gesê:

6. “Skei die Leviete van die ander Israeliete en berei hulle voor.

7. Doen dit deur reinigingswater oor hulle te sprinkel. Laat hulle dan hulle hele lyf skeer en hulle klere was sodat hulle gereinig kan wees.

8. Laat hulle dan ’n jong bul bring en ’n maaltydoffer van meel gemeng met olie en ook ’n tweede bul vir ’n sonde-offer.

9. Roep al die Israeliete bymekaar en bring die Leviete na die ingang van die tabernakel.

10. Wanneer jy die Leviete voor die Here bring, moet die Israeliete hulle hande op die Leviete kom lê.

11. Aäron moet die Leviete dan aan die Here voorstel en hulle aan hom opdra as ’n offer wat die Israeliete vir die Here gee. Hulle moet dan in diens van die Here staan.

12. “Die Leviete moet dan hulle hande op die koppe van die jong bulle sit. Hulle moet die een offer as ’n sonde-offer en die ander as ’n brandoffer om versoening te bring vir hulle sonde.

13. Laat die Leviete dan voor Aäron en sy seuns gaan staan. Dra hulle dan aan die Here op as ’n offer wat vir Hom aangebied word.

14. So sal jy die Leviete losmaak van die res van die Israeliete en hulle sal uitsluitlik in my diens staan.

15. Daarna kan die Leviete hulle werk in die tabernakel begin doen, want jy het hulle gereinig en hulle ’n offer vir God gemaak.

Lees volledige hoofstuk Numeri 8