Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 3:20-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Merari se mense was Magli en Musi. Dit was al Levi se afstammelinge.

21. Die Gersoniete het bestaan uit die familiegroepe van Libni en Simi.

22. Hulle manspersone ouer as ’n maand wat getel is, was altesaam 7 500.

23. Hierdie groep het aan die westekant van die tabernakel gebly.

24. Eljasaf seun van Lael was hulle leier.

25. Die Gersoniete se werk was om by die tabernakel te sorg vir die seile wat bo-oor die tent kom, die afskorting by die ingang van die tent,

26. die afskorting rondom die binnehof en die gordyn by die ingang van die binnehof, die tenttoue en die onderhoud daarvan.

27. Die Kehatgroep het bestaan uit Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

28. Hulle manspersone bo ’n maand oud was altesaam 8 600. Hulle moes na die heiligdom omsien.

29. Hierdie groep het aan die suidekant van die tabernakel gebly.

30. Elisafan, die seun van Ussiël, was hulle leier.

31. Hulle moes omsien na die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik is, die voorhangsel en al die werk wat daar gedoen is.

32. Aäron se seun, die priester Eleasar, was aan die hoof van al die Leviete wat die heiligdom moes versorg.

33. Merari se nageslag was Magli en Musi.

34. Hulle manlike persone bo ’n maand oud was 6 200.

35. Hulle het noord van die tabernakel gebly. Hulle leier was Suriël, die seun van Abigajil.

36. Hulle werk was om te sorg vir die rame waaroor die tent getrek is, die dwarslatte wat dit vasgehou het, die regop pale en hulle voetstukke, al hulle toebehore en die onderhoud wat daaraan gedoen moes word.

37. Hulle moes ook sorg vir die pale van die binnehof rondom die tent, hulle voetstukke, hulle ankerpenne en hulle tenttoue.

Lees volledige hoofstuk Numeri 3