Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 28:22-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring om versoening vir julleself te doen.

23. Julle moet hierdie offers bo en behalwe die gereelde brandoffers bring van elke môre.

24. Op elkeen van die sewe dae moet julle die graanoffer bring as ’n vuuroffer wat vir die Here vreugde gee. Die offers moet bo en behalwe die gereelde brandoffer en drankoffer gebring word.

25. Op die sewende dag moet julle weer ’n gewyde byeenkoms hou. Ook op hierdie dag mag julle nie julle gewone werk doen nie.”

26. “Op die eerste dag van die Fees van die Weke bring julle ’n offer uit die nuwe graan wat geoes is. Op hierdie dag moet daar ’n gewyde byeenkoms vir die Here wees. Julle mag nie op daardie dag julle gewone werk doen nie.

27. Julle moet op daardie dag ’n buitengewone brandoffer vir die Here bring wat vir Hom vreugde gee. Dit bestaan uit twee jong bulle, ’n ram en sewe lammers wat ’n jaar oud is.

28. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel wat met olie gemeng is. Saam met die ram bring julle ’n offer van drie kilogram meel.

29. Saam met elkeen van die sewe lammers bring julle een en ’n half kilogram meel.

30. Offer ook nog ’n bokram as sonde-offer om vir julle versoening te bring.

Lees volledige hoofstuk Numeri 28