Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 24:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Bileam het toe begin insien dat die Here eerder vir Israel wil seën. Hy het nie aangegaan om soos gewoonlik na voorspellings te soek nie. Hy het na die woestyn toe gedraai.

2. Daar het hy gesien hoe Israel volgens hulle stamme staan. Die Gees van God het toe oor hom gekom.

3. Hy het die volgende boodskap gebring: “So sê Bileam, die seun van Beor. Sy oë het oopgegaan.

4. Hy het God se woorde gehoor. Hy het ’n gesig van die Allerhoogste gesien. Hy val neer op die grond met sy oë wawyd oop.

5. Hoe pragtig is jou tente, Jakob! Hoe mooi is die plek waar jy bly Israel!

6. Dit is uitgestrek soos ’n vallei, soos ’n tuin langs ’n stroom, soos aalwyne wat die Here geplant het, soos sederbome langs die water.

7. Water vloei uit sy houers, sy nageslag is by oorvloedige waters. Sy koning is beroemder as Agag.Sy koninkryk gaan van krag tot krag.

8. God het hom uit Egipte bevry met die krag van ’n bul. Nasies wat vyandig is teen hom, dié verslind hy. Hy vergruis hulle bene en skiet sy pyle op hulle af.

9. Hy buk en gaan lê soos ’n leeumannetjie. Hy is soos ’n leeu; niemand kan hom teenstaan nie. Elkeen wat jou seën, is geseënd.Elkeen wat jou vervloek, is vervloek.”

10. Balak het toe woedend geword vir Bileam. Hy het sy hande teen mekaar geklap en vir hom geskreeu: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek. Dit is nou al drie maal dat jy hulle geseën het.

11. Maak dat jy wegkom na jou huis toe! Ek het wel gesê ek sal jou beloon, maar die Here het nou jou beloning weggevat!”

12. Bileam het vir Balak gesê: “Onthou jy nie dat ek vir die boodskappers wat jy gestuur het, gesê het:

13. ‘Al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, ek kan nie enigiets anders sê as wat die Here vir my gee nie, of dit nou goed of kwaad is.’”

Lees volledige hoofstuk Numeri 24