Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Hulle is van daar af weg en het by die Seredspruit gekampeer.

13. Van daar af het hulle verskuif na die Arnonrivier, wat uit die gebied van die Amoriete vloei. Die Arnon vorm die grens tussen die gebied van die Moabiete en die Amoriete.

14. In Die boek van die oorloë van die Here staan daar geskryf:“By die dorp Wahebin die gebied van Sufa en die spruit van Arnon,

15. en die vallei by die spruite wat strek tot by die nedersetting van Ar by die grens met Moab.”

16. Van daar af is hulle na Beër toe. Dit is die Beër waar die Here vir Moses gesê het: “Roep die volk bymekaar dat Ek vir hulle water kan gee.”

17. Daar het Israel hierdie lied gesing: “Borrel op, put! Ons sal daaroor sing.

18. Put wat deur vorste oopgegrawe is. Wat die leiers van die volk oopgemaak het, met septers en staf.” Hulle het toe uit die woestyn na Mattana toe vertrek.

19. Van daar is hulle na Nagaliël en toe na Bamot toe.

20. Daarvandaan het hulle vertrek na die vallei in die gebied van Moab onder die piek van Pisga, wat op die droë gebied van Jesimon afkyk.

21. Die Israeliete het boodskappers na Sihon, die koning van die Amoriete, gestuur:

22. “Laat ons deur jou land trek. Ons sal nie afdraai na die veld, of na jou wingerde toe nie. Ons sal nie water uit jou putte drink nie. Ons sal reguit hou met die Hoofweg van die Konings totdat ons deur jou gebied is.”

23. Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het sy hele volk bymekaargekry en uitgetrek om Israel in die woestyn aan te val. Hy het by Jahas aangekom en daar teen Israel geveg.

24. Die Israeliete het hom egter in die geveg verslaan. Hulle het sy land by hom afgevat vanaf die Arnonrivier tot by die Jabbokspruit teenaan die Ammoniete. Die Ammoniete het hulle gebied verdedig.

Lees volledige hoofstuk Numeri 21