Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Korag, die seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het saamgesweer met Datan en Abiram, die seuns van Eliab en met On, die seun van Pelet. Hulle was van Ruben se stam.

2. Hulle het saam met 250 mans uit die Israeliete teen Moses in opstand gekom. Hulle was almal bekende leiers wat deur die gemeenskap aangewys is.

3. Hulle het by Moses en Aäron bymekaargekom en vir hulle gesê: “Julle dink te veel van julleself. Almal van die gemeenskap is tog vir God afgesonder. Die Here is onder ons almal. Waarom beskou julle julleself belangriker as die res van die Here se volk?”

4. Toe Moses hoor wat hulle sê, het hy op die grond neergeval.

5. Hy het vir Korag en almal wat met hom saamgespan het, gesê: “Môre-oggend sal die Here wys wie aan Hom behoort en wie vir Hom afgesonder is. Hy sal dié vir wie Hy verkies het, toelaat om naby Hom te kom.

6. Korag, jy en jou meelopers moet vir julle vuurpanne kry.

7. Môre moet julle dan vuurkole daarin sit en voor die Here kom en wierook daaroor sprinkel. Die een vir wie die Here kies, sal die een wees wat vir Hom afgesonder is. Dit is eerder julle Leviete wat te veel van julleself dink!”

8. Moses praat toe weer met Korag: “Luister tog, julle Leviete!

9. Beteken dit dan niks vir julle dat die God van Israel julle vir Hom uit die gemeenskap van Israel eenkant gesit het nie? Hy het dit gedoen sodat julle naby Hom kan wees om Hom namens die gemeenskap by sy tabernakel te dien!

10. Hy het vir jou en jou Levietebroers by jou, naby Hom laat kom. Wil julle dan nou vir julle ook die priesterdiens inpalm?

11. Wat het julle teen Aäron? Dis teen die Here wat jy en jou trawante saamsweer.”

12. Moses het toe Datan en Abiram, die seuns van Eliab, na hom toe laat roep. Hulle het laat weet: “Ons sal nie kom nie!

13. Is dit nie alreeds erg genoeg dat jy ons uit die vrugbare land weggevat het om hier in die woestyn dood te gaan nie? Nou wil jy jouself nog as baas oor ons aanstel!

14. Jy het ons glad nie na ’n vrugbare land toe laat kom nie. Jy het ons nie landerye en wingerde gegee om te besit nie. Probeer jy hierdie mense ’n rat voor die oë draai? Ons sal nie kom nie!”

15. Moses het toe baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “Moenie hulle graanoffers aanvaar nie. Ek het nie eers ’n donkie by een van hulle gevat nie. Ek het nooit enigeen van hulle benadeel nie.”

16. Moses het vir Korag gesê: “Jy en al jou kamerade moet môre hier voor die Here kom. Aäron moet by wees.

17. Laat jy en Aäron en elkeen van jou 250 handlangers ’n vuurpan dra en wierook om daaroor te gooi en kom dan na die Here toe.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 16