Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 14:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid by die tabernakel.

11. Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk nog aanhou om My te minag? Hoe lank gaan hulle bly weier om op My te vertrou, selfs al het Ek al die wonders tussen hulle laat gebeur?

12. Ek gaan ’n pessiekte onder hulle laat uitbreek. Ek gaan hulle uitroei. Ek gaan jou egter ’n groot nasie maak wat baie sterker is as hulle!”

13. Moses het toe vir die Here gesê: “U het met u krag hierdie volk uit Egipte weggevat. Die Egiptenaars sal hoor wat U doen.

14. Hulle sal dit vir die inwoners van hierdie land oorvertel. Hulle het alreeds gehoor dat U tussen die mense van hierdie volk bly. Here, hulle weet dat U sigbaar is vir u volk in die wolk wat bo hulle hang. Hulle weet dat U die volk lei met ’n wolkmassa wat bedags voor hulle uitgaan en ’n vuurbondel wat snags voor hulle is.

15. As U nou meteens hierdie volk man en muis uitwis, gaan die nasies wat van u beroemdheid gehoor het, sê:

16. ‘Omdat die Here nie die volk na die land toe kon bring wat Hy vir hulle belowe het nie, het Hy hulle sommer daar in die woestyn doodgemaak.’

17. Wys tog nou dat U so sterk is soos wat U gesê het. U het mos gesê:

18. ‘Die Here word nie gou kwaad nie. Sy liefde kan sonde en oortreding verdra. Hy laat sonde egter nie ongestraf bly nie. Hy hou dit wat die ouers verkeerd gedoen het nog teen die derde en vierde geslag daarna.’

19. “Vergeef tog nou hierdie volk se sonde soos U in u groot liefde hulle verdra het vandat hulle uit Egipte uit weg is tot nou toe.”

20. Die Here sê toe: “Ek sal hulle vergeef soos jy gevra het.

21. Maar so seker as wat Ek leef en die aarde vol is van die Here se groot mag,

22. nie een van hierdie mans wat gesien het hoe groot Ek is en watter wondertekens Ek in Egipte en die woestyn gedoen het en wat My herhaaldelik getoets het deur nie na My te luister nie,

23. nie een van hulle wat My verag het, sal in die land kom wat Ek aan hulle voorouers beloof het nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 14