Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:24-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Moses is toe uit na die volk toe om vir hulle te sê wat die Here gesê het. Hy het 70 leiers bymekaargemaak en hulle reg rondom die tabernakel laat staan.

25. Die Here het in ’n wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het sy Gees wat in Moses was ook oor die 70 mans laat kom. Toe die Gees oor hulle gekom het, het hulle begin profeteer. Dit het net hierdie een keer met hulle gebeur.

26. Twee mans, Eldad en Medad, was deel van die 70 mans. Hulle het in die kamp agtergebly. Hulle het nie saamgegaan na die tabernakel toe nie. Toe die Gees oor die mans gekom het, het hulle ook begin profeteer daar waar hulle in die kamp was.

27. ’n Jong seun het gehardloop en vir Moses kom sê: “Eldad en Medad is besig om in die kamp te profeteer!”

28. Josua, die seun van Nun, was van jongs af Moses se assistent. Hy het vir Moses gesê: “Meneer moet hulle stop!”

29. Moses het hom geantwoord: “Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die Here tog maar van die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!”

30. Moses en die leiers is toe weer terug na die kamp toe.

31. Die Here het toe ’n wind laat waai. Dit het kwartels van die see af oor die kamp gewaai. Hulle het reg rondom die kamp geval, omtrent ’n dagreis ver in alle rigtings en omtrent ’n meter diep.

32. Die volk het uitgegaan en daardie hele dag en nag en ook nog die volgende dag kwartels bymekaargemaak. Die minste wat enigeen bymekaargemaak het, was 50 houers. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei.

33. Nog voor hulle die vleis klaar geëet het, het die Here se woede teen die volk losgebars. Die Here het ’n baie groot siekte onder hulle laat uitbreek.

34. Daardie plek se naam het “Kibrot-Taäwa” geword. Daar is die mense begrawe wat so lus vir vleis geword het.

35. Van daar af is die volk na Gaserot toe. Hulle het ’n tyd lank daar gebly.

Lees volledige hoofstuk Numeri 11