Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:21-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Moses het die Here geantwoord: “Hier onder ons is daar 600 000 mans wat kan veg. En dan sê U nog: ‘Ek sal vir hulle vir ’n maand lank vleis gee om te eet.’

22. Sou dit genoeg wees as ons al die skape en die beeste vir hulle slag? Sou dit genoeg wees as ons al die visse van die see vir hulle bymekaarmaak?”

23. Die Here het vir Moses gesê: “Dink jy die Here kan nie? Jy sal nou sien of Ek kan doen wat Ek sê of nie.”

24. Moses is toe uit na die volk toe om vir hulle te sê wat die Here gesê het. Hy het 70 leiers bymekaargemaak en hulle reg rondom die tabernakel laat staan.

25. Die Here het in ’n wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het sy Gees wat in Moses was ook oor die 70 mans laat kom. Toe die Gees oor hulle gekom het, het hulle begin profeteer. Dit het net hierdie een keer met hulle gebeur.

26. Twee mans, Eldad en Medad, was deel van die 70 mans. Hulle het in die kamp agtergebly. Hulle het nie saamgegaan na die tabernakel toe nie. Toe die Gees oor die mans gekom het, het hulle ook begin profeteer daar waar hulle in die kamp was.

27. ’n Jong seun het gehardloop en vir Moses kom sê: “Eldad en Medad is besig om in die kamp te profeteer!”

28. Josua, die seun van Nun, was van jongs af Moses se assistent. Hy het vir Moses gesê: “Meneer moet hulle stop!”

29. Moses het hom geantwoord: “Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die Here tog maar van die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!”

Lees volledige hoofstuk Numeri 11