Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die volk het by die Here begin kla oor hulle swaarkry. Toe Hy dit hoor, het die Here kwaad geword. Vuur wat van die Here af kom, het onder hulle uitgebreek. Dit het tot op die kant van die kamp gebrand.

2. Hulle het na Moses geroep om hulle te help. Hy het tot die Here gebid en die vuur het bedaar.

3. Die plek is toe Tabera genoem, want vuur wat van die Here af kom, het daar onder hulle gebrand.

4. ’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry?

5. Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel.

6. Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!”

7. Die manna was soos koljandersaad. Dit het ’n vaal kleur gehad.

8. Die volk het uitgegaan en dit van die grond af opgetel. Hulle het dit dan tussen klippe gemaal of in ’n vysel stukkend gestamp. Daarna het hulle dit in ’n pot gekook en dan daarvan plaatkoeke gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.

9. Die manna het saam met die dou gedurende die nag geval.

10. Moses het gehoor hoe die stamme van die volk by hulle tente se openinge staan en mor. Die Here het baie kwaad geword. Dit was vir Moses ’n baie verkeerde ding.

11. Moses vra toe vir die Here: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar, gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal?

Lees volledige hoofstuk Numeri 11