Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 7:61-73 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

61. “Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie.

62. Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam 642 mense.

63. “Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dié Barsillai wat getroud is met ’n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is.

64. Hierdie families het probeer vasstel of hulle in die registers opgeneem is, maar hulle kon niks vind nie. Hulle is van hulle priesterskap onthef.

65. Die amptenaar wat met dié saak belas was, het besluit dat hulle nie van die gewyde gawes mag eet voordat ’n priester met die Urim en die Tummim uitsluitsel gegee het nie.

66. “Die hele groep was in totaal 42 360 mense,

67. afgesien van hulle slawe en slavinne wat in totaal 7 337 was. Dan was daar ook nog 245 manlike en vroulike sangers.

68. Hulle het ook 736 perde, 245 muile

69. asook 435 kamele en 6 720 donkies saamgevat.”

70. Party familiehoofde het bydraes vir die werk gegee. Die goewerneur het agt en ’n half kilogram goud, 50 goue komme en 530 stelle priesterklere gegee.

71. Van die familiehoofde het vir die werkfonds 168 kilogram goud en een en ’n kwart ton silwer bygedra.

72. Die res van die mense het 168 kilogram goud, meer as ’n ton silwer en 67 stelle priesterklere gegee.

73. Die priesters, Leviete, poortwagte, sangers, ’n deel van die volk en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. Almal in Israel het dit gedoen. Teen middelherfs was die mense van Israel in hulle eie dorpe gevestig.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 7