Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Sanballat hoor dat hulle besig was om die muur te herstel, was hy baie kwaad. Hy het in woede uitgebars en smalend met die Jode gepraat.

2. Hy het voor sy vriende en die leër van Samaria uitgevaar: “Wat dink hierdie armsalige Jode doen hulle? Dink hulle miskien hulle kan die muur in een dag bou as hulle net genoeg offers bring? Kyk net hoe lyk die swartgebrande klippe wat hulle onder die rommel uitkrap om weer te gebruik!”

3. Tobija die Ammoniet wat langs hom gestaan het, het gesê: “Daardie klipmuur sal omval selfs as ’n jakkals daarop loop!”

4. Toe het ek gebid: “O God, hoor ons tog, want ons word verag. Laat hulle beledigings teen hulle draai. Laat hulle self die buit wees, gevangenes in ’n ander land!

5. Moenie hulle skuld oorsien nie. Moet ook nie hulle sondes sommer net voor U uitvee nie, want hulle het U uitgelok om hier voor die bouers u woede te wys.”

6. Die mense het baie hard gewerk. Uiteindelik was die muur reg rondom die stad tot halfpad die oorspronklike hoogte herbou.

7. Die werk het gevorder en hulle het die gapings in die muur herstel. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod dit hoor, het hulle baie kwaad geword.

8. Hulle het almal planne beraam om teen Jerusalem te veg. Hulle wou kom om verwarring te veroorsaak.

9. Maar ons het tot ons God gebid. Ons het die stad dag en nag bewaak om onsself teen hulle te beskerm.

10. Maar die mense van Juda het begin sê: “Die bouers is besig om moeg te word en daar is baie rommel wat ons moet verwyder. Ons sal die muur nie alleen kan bou nie.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4