Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 2:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Maar toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar van my aankoms te hore kom, was hulle baie kwaad dat iemand van plan was om die Israeliete te help.

11. Drie dae ná my aankoms in Jerusalem

12. het ek en ’n paar ander mense in die nag uitgesluip. Ek het toe nog vir niemand vertel van die planne wat God oor Jerusalem in my wakker gemaak het nie. Ons het geen pakdiere saam met ons gevat nie, behalwe die donkie waarop ek gery het.

13. Dié nag het ek by die Valleipoort uitgegaan, verby die Jakkalsfontein tot by die Mispoort. Ek het die beskadigde mure van Jerusalem en die afgebrande hekke gaan ondersoek.

14. Daarna het ek na die Fonteinhek en die Koningsdam gery, maar my donkie kon nie deur die bourommel loop nie.

15. Ek het toe in plaas daarvan in die Kidronvallei op beweeg. Ek het die muur ondersoek en daarna teruggedraai en weer deur die Valleipoort die stad binnegegaan.

16. Die amptenare van die stad het nie geweet dat ek uitgegaan het of waarmee ek besig was nie. Ek het nog nie die Jode oor my planne ingelig nie. Ek het ook nog nie met die godsdienstige of die politieke leiers daaroor gepraat nie, ook nie met die amptenare of die mense wat die werk sou doen nie.

17. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in hoe ’n benarde posisie ons is. Jerusalem is verwoes en die stadshekke is verbrand! Maar kom ons begin die mure van Jerusalem herbou sodat ons nie langer verleë hoef te wees nie.”

18. Toe het ek hulle begin vertel hoe goed God vir my voorsien het en van my gesprek met die koning. Hulle het dadelik reageer en gesê: “Dit is reg so. Kom ons bou die muur weer op!” Hulle het toe met die goeie werk begin.

19. Maar toe Sanballat, Tobija die Ammonitiese amptenaar en die Arabier Gesem van ons planne hoor, het hulle ons minagtend gekoggel en gevra: “Wat dink julle doen julle om so teen die koning in opstand te kom?”

20. Ek het hulle geantwoord: “Ons sal met die hulp van die God van die hemel suksesvol wees. Ons is sy diensknegte, ons sal die mure begin herstel. Julle het geen aandeel aan of historiese aanspraak op Jerusalem nie.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 2