Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Onthou wat ek gedoen het, my God. Moenie al die mooi dinge wat ek getrou vir u tempel gedoen het, vergeet nie.

15. In daardie tyd het ek gesien hoe party van Juda se mense op die Sabbat wyn pars. Hulle het ook bondels koringgerwe aangedra en op donkies gelaai. Meer nog, hulle het wyn, druiwe, vye en allerlei ander produkte gebring om in Jerusalem op die Sabbat te verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie op dié dag kos te verkoop nie.

16. Daar was ook mense wat van Tirus afkomstig was wat vis en ander handelsprodukte gebring het. Hulle het dit op die Sabbat aan die mense van Juda verkoop, en dit in Jerusalem!

17. Ek het die leiers van Juda aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so verkeerd optree? Julle misbruik die Sabbatdag!

18. Is dit nie genoeg dat julle voorouers presies net so opgetree het nie? Dit is die rede hoekom ons God al hierdie rampe oor hierdie stad gebring het. Julle veroorsaak nog net meer woede teen die mense van Israel deur toe te laat dat hulle die Sabbat so misbruik.”

19. Ek het opdrag gegee dat hulle die ingange van Jerusalem op Vrydagaande teen sononder moes sluit. Eers as die Sabbat verby is, mag hulle dit weer oopmaak. Ek het verder van die mense in my diens gestuur om die hekke op te pas sodat niemand enige handelsware op die Sabbat inbring nie.

20. Dit het een of twee keer gebeur dat die handelaars wat met allerhande soorte ware handel dryf, buite Jerusalem moes oornag.

21. Maar ek het hulle gewaarsku en gesê: “Hoekom oornag julle hier buite die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle arresteer!” Dit was die laaste keer dat hulle op die Sabbat gekom het.

22. Ek het die Leviete toe beveel om hulle te reinig en om by die ingange wag te staan sodat niemand die Sabbatdag oneervol sal vier nie. Onthou asseblief ook hierdie optrede van my, my God! Wees goed vir my omdat u liefde groot is en U niemand ooit in die steek laat nie.

23. Min of meer in dieselfde tyd het ek besef dat sommige Judese mans met vroue uit Asdod, Ammon en Moab getroud was.

24. Van hierdie mense se kinders kon omtrent die helfte nie die taal van Juda praat nie. Hulle het net die taal van Asdod of een van die ander tale van die omgewing gepraat.

25. Ek het hulle aangespreek en hulle vervloek. Party van hulle het ek berispe, hulle vervloek, sommige geslaan en ander se hare uitgetrek. Ek het hulle ’n belofte voor God laat aflê dat hulle nie sou toelaat dat hulle kinders met die heidense mense van die land ondertrou nie.

26. “Was dit nie presies die rede hoekom koning Salomo van Israel in sonde beland het nie?” het ek gevra. “Daar was geen koning van enige nasie wat met hom vergelyk kan word nie. God het hom liefgehad en het hom koning oor die hele Israel gemaak. Die waarheid is dat dit sy heidense vroue was wat veroorsaak het dat hy sondig.

27. Hoe kan julle ooit daaraan dink om so ’n sonde te doen deur met heidense vroue te trou en so aan God ontrou te wees?”

28. Selfs die hoëpriester Eljasib se seun Jojada was met die dogter van Sanballat, die Goroniet, getroud. Ek het hom voor my weggejaag.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13