Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 5:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “As iemand geroep word om te getuig oor iets wat hy gehoor of gesien het en hy doen dit nie, sal hy daarvoor verantwoordelik gehou word. So ’n persoon mag ook gestraf word.

2. “As iemand aan iets raak wat onrein is, soos die karkas van ’n dier wat onrein is, of dit nou ’n wilde of mak dier is of selfs iets wat op die grond kruip, is so iemand onrein en skuldig, selfs al is hy nie bewus van sy onreinheid nie.

3. “As iemand in kontak kom met enige bron van menslike onreinheid, selfs al weet hy nie dat hy onrein gemaak is nie, sal hy as skuldig gereken word sodra hy daarvan bewus word.

4. “As iemand oorhaastig ’n eed van enige soort aflê, of dit nou vir ’n goeie of slegte doel is, sal hy as skuldig gereken word, selfs al was hy nie ten volle bewus van wat hy besig was om te doen nie.

5. “Wanneer enigiemand op dié manier bewus word van sy skuld, moet hy of sy die sonde bely.

6. So iemand moet dan ’n skaap of ’n bokooi as ’n skuldoffer vir die Here bring. Vir so ’n persoon sal die priester versoening doen vir die sonde.

7. “As iemand dit nie kan bekostig om ’n skaap te bring nie, moet hy twee jong tortelduiwe as boete vir sy sonde vir die Here bring. Een van die voëls sal ’n sonde-offer wees en die ander een sal ’n brandoffer wees.

8. Hy moet dit na die priester toe bring wat dan een as ’n sonde-offer sal offer. Die priester sal die voël se nek omdraai, maar sonder om die kop te verwyder.

9. Hy sal dan van die bloed van die sonde-offer teen die kante van die altaar sprinkel. Die res sal teen die fondament van die altaar uitgedruk word. Dit dien as ’n sonde-offer.

10. Die priester sal die ander voël as ’n brandoffer volgens die voorgeskrewe prosedures offer. Op hierdie wyse sal die priester vir die skuldiges versoening bewerk en sal hulle vergewe word.

11. “As iemand dit nie kan bekostig om twee tortelduiwe te bring nie, moet hy of sy twee kilogram meel as ’n sonde-offer bring. Omdat dit ’n sonde-offer is, mag hy dit nie met olyfolie meng of wierook daarop sit nie.

12. Hy moet die meel na die priester toe vat en die priester sal dan ’n hand vol daarvan as verteenwoordiging van die geheel skep. Dan sal hy die meel op die altaar verbrand net soos enige ander vuuroffer wat vir die Here gegee word. Dit sal sy sonde-offer wees.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 5