Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:30-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. As die huis nie binne ’n jaar teruggekoop word nie, word die huis binne ’n ommuurde stad die permanente eiendom van die koper. Dit word dan nie in die Jubeljaar aan die oorspronklike eienaar terugbesorg nie.

31. ’n Huis in ’n dorp – dit beteken ’n nedersetting sonder versterkte mure – word op dieselfde manier as eiendom in die oop veld beskou. So ’n huis mag te eniger tyd teruggekoop word en moet dan aan die oorspronklike eienaar terugbesorg word in die Jubeljaar.

32. “Die Leviete behou altyd die reg om ’n huis wat hulle in die stad verkoop het, weer terug te koop.

33. Enige eiendom wat deur die Leviete teruggekoop kan word – dit wil sê alle huise in Levitiese stede – moet aan hulle terugbesorg word in die Jubeljaar. Die Levitiese stede is tog die enigste eiendom wat hulle in Israel mag besit.

34. Die strook weiveld om elk van die Levitiese stede mag nooit verkoop word nie. Dit is hulle permanente eiendom.”

35. “Wanneer enigeen van julle mede-Israeliete in armoede verval en van jou afhanklik raak, sorg vir hulle soos wat julle vir ’n vreemdeling sou sorg en laat hulle toe om by julle te bly.

36. Moenie wins uit hom maak of rente hef op die geld wat julle vir hulle leen nie. Wys julle vrees vir God deur hulle by julle te laat bly as julle bloedverwante.

37. Onthou, julle mag nie julle bloedverwante rente vra op enigiets wat julle aan hulle leen nie, of dit nou kos of geld is.

38. Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het om aan julle hierdie land te gee en om julle God te wees.

39. “As enigeen van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself as slawe aan julle moet verkoop, moet hulle nie as slawe behandel nie.

40. Behandel hulle eerder soos gehuurde werkers of soos vreemdelinge wat by julle bly. Hulle sal in julle diens wees tot die Jubeljaar toe.

41. Hulle en hulle kinders het dan geen verpligting teenoor julle nie en kan terugkeer na hulle familiegroep en eiendom toe.

42. Die volk Israel is in my diens, dit is vir hulle wat Ek uit die land Egipte gebring het. Hulle mag dus nooit weer as slawe verkoop word nie.

43. Wys julle respek vir God deur hulle goed te behandel. Moenie julle gesag oor hulle op ’n harde manier uitoefen nie.

44. “Julle mag slawe of slavinne koop van die nasies wat rondom julle bly.

45. Julle mag ook die kinders koop van die mense wat tydelik tussen julle bly, ook dié wat in julle land gebore is. Julle mag hulle as julle eiendom behandel

46. en hulle selfs aan julle kinders bemaak as ’n wettige erfporsie. Julle mag julle slawe so behandel, maar die volk Israel, julle bloedverwante, mag nooit so behandel word nie.

47. “As ’n vreemdeling wat onder julle woon sou ryk word, en as een van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself verkoop aan so ’n vreemdeling,

48. behou hulle nog steeds die reg om teruggekoop te word. Hulle mag deur ’n naby familielid –

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25