Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 20:6-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. “As iemand onder die volk ontrou is deur geeste of waarsêers te raadpleeg, sal Ek teen hulle optree en hulle verwyder van die gemeenskap.

7. Sonder julleself af om heilig te wees, want Ek, die Here, is julle God.

8. Hou my gebooie en wees gehoorsaam, want Ek is die Here wat julle heilig maak.

9. “Elkeen wat sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word. Hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

10. “As ’n man egbreuk pleeg met ’n ander man se vrou, moet beide die man en vrou doodgemaak word.

11. As ’n man gemeenskap het met sy pa se vrou, moet beide die man en vrou doodgemaak word, want hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

12. As ’n man gemeenskap het met sy skoondogter, moet albei doodgemaak word. Wat hulle gedoen het, is heeltemal verkeerd en hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

13. “As ’n man by ’n man slaap soos ’n man by ’n vrou slaap, moet beide doodgemaak word. Dit is ’n afskuwelike ding en hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

14. As ’n man met ’n vrou en ook haar ma trou, is dit verskriklik verkeerd. Al drie moet verbrand word om sulke verkeerde dade onder julle uit te wis.

15. “As ’n man gemeenskap het met ’n dier, moet hy doodgemaak word en die dier ook.

16. As ’n vrou met ’n dier gemeenskap het, moet sy en die dier doodgemaak word. Beide moet doodgemaak word, want hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

17. “As ’n man seksuele gemeenskap het met sy suster, die dogter van sy pa of ma, is dit ’n verskriklike skande. Beide van hulle moet in die openbaar uit die gemeenskap verwyder word. Omdat die man seksuele gemeenskap met sy suster gehad het, moet hy onder die gevolge van sy skuld ly.

18. As ’n man seksuele gemeenskap het met ’n vrou tydens haar menstruasie, moet beide verwyder word uit die gemeenskap. Hy het die bron van haar bloedvloeiing openbaar en sy het hom toegelaat om dit te doen.

19. “As ’n man seksuele gemeenskap het met sy tante, sy ma se suster of sy pa se suster, het hy ’n naby familielid oneer aangedoen. Beide partye is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

20. As ’n man seksuele gemeenskap het met sy oom se vrou, het hy sy oom oneer aangedoen. Beide die man en vrou is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding en sal kinderloos sterf.

21. As ’n man trou met sy broer se vrou, is dit ’n onrein daad. Hy het sy broer oneer aangedoen en die skuldige paar sal kinderloos bly.

22. “Julle moet al my reëls en regulasies noukeurig gehoorsaam, anders sal die land waarheen Ek julle bring, julle uitspoeg.

23. Moenie die gebruike van die volke wat Ek voor julle uitdryf navolg nie. Dit is omdat hulle sulke verskriklike dinge doen dat Ek hulle so verafsku.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 20