Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 2:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “As jy ’n graanoffer vir die Here bring, moet dit van die beste meel wees. Gooi olyfolie daarop en besprinkel dit met wierook.

2. Bring hierdie offer na een van Aäron se seuns. Hy sal ’n hand vol van die meel gemeng met olyfolie neem en dit saam met al die wierook op die altaar verbrand. Dit verteenwoordig al die meel. Dit is ’n offer, met vuur gemaak en aangenaam vir die Here.

3. Die res van die meel moet vir Aäron en sy seuns gegee word. Dit is ’n besonder heilige deel van die vuuroffers wat vir die Here gegee word.

4. “Wanneer jy ’n graanoffer bring wat in ’n oond gebak is, moet dit bestaan uit die beste meel gemeng met olyfolie, maar sonder suurdeeg. Dit mag gebring word in die vorm van koeke gemeng met olyfolie of oliekoeke gesmeer met olyfolie.

5. As jou offer ’n graanoffer is wat op ’n bakplaat gaargemaak is, moet dit van die beste meel en olyfolie wees, maar sonder suurdeeg.

6. Breek dit in stukke en gooi olie daaroor. Dit is ’n graanoffer.

7. Wanneer jou graanoffer in ’n pan voorberei word, moet dit ook van die beste meel en olyfolie gemaak word.

8. “Ongeag hoe jy ’n graanoffer vir die Here voorberei het, bring dit vir die priester. Hy sal dit na die altaar toe bring.

9. Die priesters sal ’n gedeelte van die graanoffer as verteenwoordigend van die res neem en dit op die altaar verbrand as ’n offer wat met vuur gemaak is en wat aangenaam is vir die Here.

10. Die res van die graanoffer sal aan Aäron en sy seuns as kos gegee word. Dit is ’n besonder heilige deel van die vuuroffers wat vir die Here gegee word.

11. “Moenie suurdeeg in enige van die graanoffers wat jy aan die Here bring, gebruik nie, want geen suurdeeg of heuning mag met ’n vuuroffer vir die Here verbrand word nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 2