Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:6-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Jy moet dit eet op dieselfde dag waarop dit geoffer is, of op die laatste die volgende dag. Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet verbrand word.

7. As enige deel van die offer op die derde dag geëet word, is dit onrein en sal Ek dit nie aanvaar nie.

8. As jy dit eet op die derde dag, is jy verantwoordelik vir die sonde van verontreiniging van wat heilig vir die Here is en moet jy uit die gemeenskap verwyder word.

9. “Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kante van die veld oes nie, en moet ook nie dit optel wat val nie.

10. Dieselfde geld vir die druiwe-oes. Moenie elke moontlike druiwetros afoes nie en moet ook nie druiwekorrels wat op die grond geval het, optel nie. Laat dit daar vir die armes en die vreemdelinge wat tussen julle woon, want Ek, die Here, is julle God.

11. “Moenie steel nie. Moenie mekaar kul nie. Moenie lieg nie.

12. “Moenie my Naam gebruik om vals te sweer en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

13. “Moenie iemand bedrieg of beroof nie. Betaal jou gehuurde werkers nog dieselfde dag.

14. “Wys jou eerbied vir God deur dowe mense met respek te behandel en moenie ’n blinde persoon laat struikel nie. Ek is die Here.

15. “Oordeel regverdig oor jou naaste. Moenie arm mense bevoordeel of ryk mense begunstig nie.

16. “Moenie skinderstories onder mense versprei nie. Moenie probeer om jouself te bevoordeel ten koste van jou buurman se lewe nie, want Ek is die Here.

17. “Moenie haat teen enigeen van jou familielede in jou hart vertroetel nie. Wees reguit en wys jou buurman op sy oortreding sodat jy nie ook skuldig is aan wat hy verkeerd doen nie.

18. “Moenie wraak soek of ’n grief teen iemand koester nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19. “Gehoorsaam al my gebooie. Moenie jou diere kruis met ander soorte diere nie. Moenie twee soorte saad op een land plant nie. Moenie klere dra wat van twee verskillende soorte materiaal gemaak is nie.

20. “Wanneer ’n man seksuele gemeenskap het met sy slavin wat reeds aan iemand anders belowe is, maar die koopsom is nog nie betaal nie, moet die man skadevergoeding betaal. Omdat sy egter nog nie vry was nie, hoef hulle nie doodgemaak te word nie.

21. Die man moet egter ’n ram as skuldoffer vir die Here bring by die ingang van die tent van ontmoeting.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19