Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14:17-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Die priester sal dan van die olie in sy linkerhand aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die gesonde persoon smeer, bo-oor die bloed van die skuldoffer.

18. Die olie wat in die priester se hand oorbly, sal hy dan oor die kop van die gesonde persoon uitgooi. Op dié manier sal die priester versoening bring in die teenwoordigheid van die Here vir die persoon wat gereinig word.

19. “Die priester moet dan die sonde-offer bring en weer die versoeningseremonie herhaal vir die persoon wat gesond geword het van die velsiekte. Daarna sal die priester die hele brandoffer slag

20. en dit op die altaar saam met die graanoffer offer. Op dié manier sal die priester versoening bewerk vir die persoon wat gereinig is en sal die gesonde persoon rein wees.

21. “Enigiemand wat nie twee lammers kan bekostig nie, moet een rammetjie as skuldoffer bring saam met twee liter keurgraad meel gemeng met olyfolie as ’n graanoffer en 300 milliliter olyfolie. Die skuldoffer sal dan gebring word deur dit op te lig en so versoening te bring vir die persoon wat gereinig is.

22. Die persoon wat gereinig is, moet ook twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring, wat hy ook al kan bekostig. Een paar moet as ’n sonde-offer en die ander paar as ’n hele brandoffer gebruik word.

23. Op die agtste dag moet die persoon wat gereinig is die offers vir die priester bring sodat die reinigingseremonie voltooi kan word in die teenwoordigheid van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting.

24. Die priester sal dan die rammetjie met die olyfolie vir die skuldoffer neem en dit in die teenwoordigheid van die Here oplig as ’n offer vir Hom.

25. Dan sal die priester die rammetjie slag as ’n skuldoffer. Hy sal van die bloed op die persoon se regteroorlel, die regterduim en regtergroottoon smeer.

26. “Die priester sal ook van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi.

27. Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here sprinkel.

28. Die priester sal dan van die olyfolie in sy hand neem en dit aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon smeer bo en behalwe die bloed van die skuldoffer.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 14