Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:21-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Die volk het egter vir Josua verseker: “Nee, ons sal beslis die Here aanbid!”

22. “Julle staan self daarvoor in dat julle besluit het om die Here te aanbid,” het Josua vir die volk gesê. Hulle het geantwoord: “Ons staan daarvoor in.”

23. “Goed,” sê Josua, “vernietig dan al die vreemde gode wat daar tussen julle is en verbind julle aan die Here die God van Israel alleen.”

24. Die volk sê toe vir Josua: “Ons sal net die Here ons God aanbid. Ons sal net na Hom luister.”

25. Josua het daardie dag in Sigem die volk ’n verbond laat sluit. Hy het vir hulle die voorskrifte en die bepalings daarvan uitgespel.

26. Hy het dit alles in die wetboek van God neergeskryf. Hy het ’n groot klip gekry en dit daar onder die groot eikeboom wat naby die heiligdom van die Here was, regop laat staan.

27. Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle hierdie klip? Dit is ’n getuie teen ons. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Dit sal ’n getuie teen julle wees as julle nie julle woord teenoor God hou nie.”

28. Josua het toe die volk laat teruggaan na hulle grond toe.

29. Kort na hierdie gebeure is Josua, die seun van Nun en dienaar van die Here, dood. Hy was toe 110 jaar oud.

30. Hulle het hom op sy grond begrawe by Timnat-Serag in die heuwels van Efraim, net noord van Gaäsberg.

31. Israel het die Here bly aanbid solank Josua geleef het en ook in die tyd van die leiers wat langer as Josua bly leef het. Hulle het alles ervaar wat die Here vir Israel gedoen het.

32. Josef se beendere wat die Israeliete saamgebring het uit Egipte, is in Sigem begrawe in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, die vader van Sigem, gekoop het vir 100 stukke silwer. Hierdie grond het aan die nakomelinge van Josef behoort.

33. Eleasar, die seun van Aäron, is ook dood. Hy is in Gibea begrawe. Dit is ’n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas behoort het.

Lees volledige hoofstuk Josua 24