Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:14-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. “Eer nou die Here en aanbid Hom met volle oorgawe en met getrouheid. Laat vaar die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat en in Egipte aanbid het. Dien die Here.

15. As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid. Is dit die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat gedien het, of is dit die gode van die Amoriete in wie se land julle nou woon? Ek en my huisgesin sal die Here aanbid.”

16. Die volk het daarop reageer. Hulle het verklaar: “Ons sal nooit die Here los om ander gode te dien nie.

17. Dit is die Here ons God wat ons en ons voorouers uit die slaweplek van Egipte bevry het. Dit is Hy wat wonderlike tekens voor ons oë gedoen het. Dit is Hy wat ons langs die pad beskerm het toe ons tussen ander volke deur moes trek.

18. Dit is die Here wat al die volke voor ons uit verdryf het. Dit is Hy wat die Amoriete wat in die land woon voor ons laat padgee het. Ons sal ook die Here aanbid. Hy is ons God.”

19. Josua het egter die volk gewaarsku: “Julle is nie in staat om die Here te aanbid nie. Hy is ’n heilige God. Hy eis onverdeelde getrouheid. Hy sal dit nie verdra as julle opstandig is en teen Hom oortree nie.

20. As julle die Here verlaat en julle begin vreemde gode aanbid, sal Hy teen julle draai. Hy sal julle uitroei en met julle klaarspeel, selfs al het Hy julle voorheen goed behandel.”

21. Die volk het egter vir Josua verseker: “Nee, ons sal beslis die Here aanbid!”

22. “Julle staan self daarvoor in dat julle besluit het om die Here te aanbid,” het Josua vir die volk gesê. Hulle het geantwoord: “Ons staan daarvoor in.”

23. “Goed,” sê Josua, “vernietig dan al die vreemde gode wat daar tussen julle is en verbind julle aan die Here die God van Israel alleen.”

24. Die volk sê toe vir Josua: “Ons sal net die Here ons God aanbid. Ons sal net na Hom luister.”

Lees volledige hoofstuk Josua 24